LET’S GET IT ON: Landless People’s Movement (LPM) councillor for the Windhoek rural constituency Piet Petrus Adams. PHOTO: FILE
LET’S GET IT ON: Landless People’s Movement (LPM) councillor for the Windhoek rural constituency Piet Petrus Adams. PHOTO: FILE

Stad se probleme kook oor op Groot-Aub

Jemima Beukes
Die Landless People’s Movement (LPM) se raadslid vir die Windhoek Landelike-kiesafdeling, mnr. Piet Petrus Adams, het ’n waarskuwing aan Stad Windhoek (CoW) onder leiding van sy burgemeester, me. Sade Gawanas, gerig om hul sokkies op te trek.

Tydens ’n gemeenskapsvergadering wat Saterdag by Groot Aub gehou is, het Adams gesê die munisipaliteit het klaaglik misluk om grond aan die inwoners in sy kiesafdeling toe te ken, en dat die tekort aan gemeenskaplike grond dié mense behoeftig laat.

“Ek het in Januarie ’n mosie by die streekraad ingedien waarin gevra word vir ingrypings om die lot van generasie-plaaswerkers te takel sowel as dié van mense wat van kommersiële plase afgesit is en tans in padreserwes woon. Intussen het my kantoor die boere van Tsatsaxas in die padreserwe op pad na Dordabis, na Farm !Areb verskuif,” het hy gesê.

‘HY JOK NIE’

Gawanas het gesê sy kan nie met Adams verskil nie, en dis duidelik dat hy gefrustreerd is. Sy het erken daar is probleme weens die gebrek aan deeglike konsultasies oor die uitbreiding van grense, die versuim om finansiering te prioritiseer en hoe dit Groot Aub- en Mix-nedersetting gaan beïnvloed.

“Ek voel ons kan grond aan ons inwoners, veral diegene wat grondloos en in die padreserwes woon, verskaf. Dis ontmoedigend om mense in die hoofstad se strate te sien doodgaan. Dis hartseer dat ons mense smeek, maar ek kan nie die feit ontken dat uitdagings bestaan nie. Hetsy denkbeeldig of realisties, maar ons het uitdagings en ons het meer geloofwaardigheid nodig om die kwessie van grondloosheid binne die stad se grense te hanteer,” het Gawanas gesê.

Sy het gesê die CoW het dringend ’n “administratiewe skoonmaak” nodig, asook ’n uitvoerende hoof en “bedryfsraad”.

“Kyk net na al die resolusies; hoeveel is geïmplementeer en hoeveel het resultate gelewer. Die CoW en die regering moet wakker skrik en hul reuse-verantwoordelikheid besef om te help met die groeiende eise van die informele nedersettings en -inwoners. Ons moet almal onsself regruk en saamwerk. Die tyd vir blaamspeletjies is verby.”

Adams neem ook die CoW kwalik dat hulle nie behoorlike basiese water- en sanitasiegeriewe aan dié twee nedersettings verskaf nie, al val die nedersettings binne Windhoek se grense.

“Dié kwessie belemmer ons ontwikkeling. Ek doen ’n beroep op die Windhoekse munisipaliteit om die twee nedersettings binne die kortste moontlike tyd van behoorlike basiese dienste te voorsien. Dis tyd dat hulle hul sokkies optrek of hul tasse pak,” het Adams gesê.

Intussen is 'n dinkskrum aangestel, wat bestaan uit inwoners wat in beheer sal wees van ontwikkeling, insluitend jeug- en sportontwikkeling, werkskepping en onderrig, misdaadvoorkoming en om maatskaplike euwels die hoof te bied, asook om die uitdagings vir die verskaffing van gesondheidsdienste te takel.

“Ons is in die proses om die kantoor van die Windhoek Landelike-kiesafdeling te omskep om nasionale dokumente uit te reik. Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) het belowe om te help met die toestelle om ons in staat te stel om die nodige dienste te lewer. Ons toekomsplan is om 'n eenstopwinkel te hê waar ons toegang tot alle staatsdienste kan verkry,” het hy gesê.

Adams het ook belowe dat hy vir die res van sy ampstermyn as raadslid sal verseker dat die bestaande kliniek by Groot Aub in ’n 24-uur mediese gesondheidsentrum omskep word, met ’n ambulans en permanente dokters.

“Sommige hiervan sal nie dadelik gesien word nie, maar ons sal dit in hierdie drie jaar moontlik maak. Ons het reeds met die proses begin. Ek het onlangs besoekers uit Duitsland ontmoet om 'n paar kwessies te bespreek. Dinge sal dalk nie uitwerk soos ons ons voorstel nie, maar ons sal beslis 'n permanente dokter en ambulans hê,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer