Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga. Foto argief
Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga. Foto argief

Toegang tot inligting ’n stap verder

NV keur wetsontwerp goed
Opposisielede het beswaar teen verskeie leemtes in die wetsontwerp aangeteken.
Augetto Graig
Die Nasionale Vergadering (NV) het vandeesweek die langverwagte wetsontwerp op toegang tot inligting goedgekeur.

Dié wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad (NR) vir verdere hersiening verwys word.

Opposisie-parlementslede het met die voorlegging van die wetsontwerp beswaar aangeteken teen die feit dat hul insette nie in die nuwe wetsontwerp in ag geneem is nie.

Die parlementslid mnr. Jan van Wyk het dit op rekord gestel dat hy beswaar maak teen die lae standaard van kwalifikasies wat vereis word vir die beamptes wat die voorgestelde inligtingkommissie sou lei.

“Die vereiste is vaag en vereis spesifieke kwalifikasies aangesien dit tans skuiwergate vir die aanstelling van enigiemand los. Ek maak beswaar teen artikel 7 in sy huidige formaat,” het hy gesê.

Lede van die Popular Democratic Movement (PDM) het spesifiek beswaar aangeteken teen verskeie leemtes in die wetsontwerp wat kwalifikasies vir hoofbeamptes soos die voorgestelde inligtingkommissaris en die adjunkkommissaris insluit, en die gebrek aan regulasies wat kragtens die nuwe wet sal geld.

Me. Elizabeth Becker van die PDM het voorgestel die nuwe inligtingkommissaris moet 'n toegelate regspraktisyn wees. Sy het spesifiek verwys na artikel 9 van die wetsontwerp, wat die bevoegdhede en funksies van die inligtingkommissaris insluit.

“Ons het wysigings gemaak maar dit is nooit in ag geneem nie,” het sy gesê.

Me. Elma Dienda het beswaar gemaak teen die gebrek aan regulasies vir die nuwe wetsontwerp. Sy het die FIMA-konsepwet, wat die NV ook sonder regulasies goedgekeur het, as ’n voorbeeld gebruik.

Die toepassing van die FIMA-wet is later, in verband met die verpligte behoud van pensioenfondsvoordele, tydelik opgeskort, alhoewel die regulasies steeds ná 1 Oktober van krag sal wees.

Volgens Dienda is die besonderhede in die regulasies weerhou en dit het die “FIMA gemors” veroorsaak.

Sy het gesê: “Ek sal nie toelaat dat Swapo weer so met moord wegkom nie. Dit is hoe julle verneuk. Die burgers sê ons is nutteloos omdat ons julle toelaat om die verkeerde ding te doen. Die regulasies word van ons weerhou omdat mense verskuilde agendas het.”

Sy het daarop aangedring dat die Wet op Toegang tot Inligting se regulasies aan die parlement gestuur word voor dit in die Staatskoerant gepubliseer word.

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, het egter gesê die NV keur nie regulasies goed nie, met die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, wat hom ondersteun het en vir Dienda gesê het: “Die regulasies is nie jou baba nie”.

Mushelenga het ook die voorstel dat die nuwe kommissaris ’n regspraktisyn moet wees, van die hand gewys aangesien sy funksies administratief sal wees.

“Met verwysing na ander wetgewing sien ons dat soortgelyke funksies deur mense uitgevoer word wat nie regspraktisyns is nie,” dring hy aan.

Die funksies wat die wetsontwerp vir die inligtingkommissaris uiteen sit, sluit onder meer in die mag om enige perseel te betree en te deursoek; om beslag te lê op enige inligting of materiaal, en om inligting te vereis waartoe toegang geweier word; om die tipe ondersoek te bepaal; en om enige saak te identifiseer wat vervolg moet word.

Dienda het gesê die minister en die meerderheid Swapo-parlementslede moet voortgaan, maar het aangedring dat haar besware op rekord geplaas word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!