Verkiesing: eerste kruisies Woensdag getrek

Voertuigeienaars sê geld is te min
Volgens die Verkiesingskommisie van Namibië (ECN) sal elke saak op meriete hanteer word.
Augetto Graig
Vir meer as 40 voertuigeienaars in die suide van die land verger die stilte aan die kant van die Verkiesingskommissie (ECN oor geld wat volgens hulle nog uitstaande is, hul frustrasie. Die kommissie het vroeër vanjaar viertrekvoertuie by die eienaars vir hul registrasieveldtog van kiesers gehur.

Kornelius Hansen sê hy het al tot by die ECN-se hoofkantore in Windhoek gery om navraag te doen, maar dit was tevergeefs.

“Ek was twee maande weg van die huis, het in die veld geslaap, self pa gestaan vir verblyf, kos en petrol. Hulle het ons net die helfte betaal. Hulle moet verduidelik of ons die geld gaan kry of nie. Ons staan voor dooiemansdeur,” sê Hansen wat N$34 000 eis.

Volgens hom het die ECN sy kontrak gevra toe hy navraag doen en is dit nie weer aan hom terugbesorg nie.

Klaas Jagger van die Rehoboth-landelike gebied, sê die eienaars is einde Junie betaal, nadat hulle drie weke op die pad was. Hy het toe reeds opgemerk die bedrag was nie genoeg nie. Die tweede betaling in Julie was ook te min. Jagger sê hy was altesaam 64 dae op die pad.

Johannes Skrywer het tot 3 Augustus vir die registrasieveldtog in die Mariental-landelike gebied gewerk. “Ek het na plase anderkant Hoachanas en duskant Stampriet gery. Die hele twee maande het ek in die veld gebly,” sê Skrywer.

“Jy weet nie hoe eet jy nie, jy weet nie waar slaap jy nie, daar is nie winkels nie, vir alles moet jy self sorg,” beskryf hy die omstandighede. Volgens hom het hy ‘n kontrak vir N$2 050 per dag geteken, maar is die betaling teen N$1 350 per dag gedoen.

“Tot vandag is ons nog steeds in die duister.” Taukeni Abner Pendapala het uitgewerk die ECN skuld hom nog N$44 800 skuld.

Die kommissie se hoofverkiesingsbeampte Petrus Shaama het by navraag gesê die ECN sal hul rekords moet nagaan en dat elke geval op eie meriete hanteer sal word. Shaama het ook gesê die eienaars se kontrakte sal aan hul terugbesorg word.

Die ECN het ook die dood van Johannes Matroos bevestig wat op 21 Oktober namens die Congress of Democrats (CoD) en op uitnodiging van die ECN saam met 17 ander partyverteenwoordigers na Suid-Afrika gereis het.

Die afvaardiging het die buurland besoek om die druk van die stembriewe deur die ECN se verkose drukkers Ren-Form CC, waar te neem. Matroos is op 30 Oktober bewusteloos in sy hotelkamer gevind, nadat die groep op dieselfde dag na Namibië sou terugkeer. Hy is op 2 November in die MediClinic Morningside in Sandton dood. Die Nasionale Demokratiese Party (NDP) leier Martin Lukato, het vroeër gesê Matroos is bewusteloos op sy bed gevind, nadat hotelbestuur moes ingryp om dit oop te sluit. Bloed het uit sy neus geloop.

“Hy het gelyk asof hy sterf en is dadelik hospitaal toe geneem,” het Lukato gesê. Volgens Johannes se broer Joseph het ‘n oponthoud met die voltooiing van die nodige papierwerk daartoe gelei dat sy broer se lyk eers vandeesweek na Namibië gebring sal word.

Die ECN het verlede week in aanloop tot 27 November se verkiesings opleiding aan meer as 400 betrokkenes en waaronder verifieerders en ouditeurs opleiding verskaf. Volgens Shaama was die opleiding “'n belangrike stap om die integriteit, deursigtigheid en doeltreffendheid van ons verkiesingsproses, wat die grondslag van ons demokrasie is, te verseker.”

Hy het beklemtoon hulle rol is nie net deurslaggewend tydens die verkiesingstydperk nie, maar is ook om openbare vertroue in die land se demokratiese prosesse te verseker.

“Ons leef in 'n tyd waar die aandrang na tydige en betroubare resultate deurslaggewend is. Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat elke stem getel word en dat die resultate gekommunikeer word op 'n manier wat geen ruimte vir twyfel of waninterpretasie laat nie,” het hy gesê. Stembriewe en nie-sensitiewe hulpbronne is reeds aan 33 van die land se 35 diplomatieke sendings gestuur. Kiesers in die buiteland, seevaarders en veiligheidspersoneel trek Woensdag hul kruisies. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!