Vervalle staatseiendom deur vandale geteiken

Ministerie van werke doen glo nie meer opknappings, herstelwerk
Die metode wat gebruik word om staatshuise te evalueer, weerspieël nie die werklike waarde van die bates nie, wat daartoe lei dat dit vir 'n appel en 'n ui verkoop word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Afgetrede staatsamptenare wat gratis in staatseiendom bly, tenderdokumente wat gereeld by die ministerie van werke en vervoer “verdwyn” met amptenare wat met tenderaars “konkel” om tenders te wen en staatskaravane wat so vervalle is dat dit moeilik is om te glo iemand bly daar.

Dié inligting is vervat in ’n verslag van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge ná ’n besoek aan regeringsbates soos die staat se werkswinkels en residensiële eiendomme in Oshana, Ohangwena, Omusati en Oshikoto. Die besoek het reeds in 2023 plaasgevind, maar die verslag is eers vandeesmaand vrygestel.

In Omusati het die komitee voor ’n staatshuis in Okahao gekom wat in die laat sestigerjare gebou is en aan twee onderwysers toegeken is.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur is verantwoordelik vir die instandhouding van die huis wat vervalle is met gebreekte vensters en krake in die mure wat so breed is dat jy daardeur kan sien. Amptenare van werke en vervoer het beweer inspekteurs in die streke het “letterlik salarisversamelaars geword”, met die meeste instandhouding wat deur “een of ander middelman” gedoen word.



SKOOLKOSHUISE

Skoolkoshuise vir seuns en meisies hier het nie deure nie en gebreekte vensters is met kartonne bedek.

In ’n primêre skool, wat in 1980 gebou is, het die fondasie van ’n klaskamer geskuif, terwyl ’n ander skool steeds asbesdakke het wat lankal weens gesondheidsrisiko’s verwyder moes word.

’n Seunskoshuis moes weens sy vervalle toestand ontruim word, met oop kragkabels wat rondgelê het. Die badkamers het oop dreine gehad, terwyl daar reusekrake in die mure en “kratergrootte” gate in die vloer, sowel as druppende en lekkende pype orals was.

Ten spyte van die opdrag dat ’n hoërskool op aanbeveling deur die ministerie van werke en vervoer gesloop moet word, was dit steeds in gebruik. Na bewering sien die onderwysministerie net om na nuwe infrastruktuur, al word ou geboue steeds gebruik.

By ’n ander hoërskool is die dak wat in 2013 afgewaai het nog steeds nie vervang nie. Die komitee het ook private individue in die streek gevind wat staatshuise bewoon wat vir onderwyspersoneel geoormerk is. Die verslag verwys na inspekteurs van werke wat die skool op Okahao besoek het, ’n verslag opgestel en “soos mis voor die son” verdwyn het.

In Oshana het die komitee verskeie regeringshuise, insluitend karavane en mobiele huise, op Oshakati besoek wat lankal verby hul lewensduur en vervalle is en eerder gesloop behoort te word. By die regering se werkswinkel op Ondangwa het 76 voertuie reeds vir meer as ses maande gewag vir geringe herstelwerk wat wissel van batterye, spieëltjies en bande.

Luidens die bestaande beleid moet 80% van herstelwerk van voertuie hier gedoen word en net 20% mag uitgekontrakteer word. Nou is dit egter andersom.

Volgens die komitee laat die feit dat voertuie gedurig onbeskikbaar is wanneer dit nodig is, die vraag ontstaan of die bestaan van die regering se werkswinkels en die werking daarvan as ’n kritieke diensverskaffer van vervoer en as ’n afdeling vir die professionele instandhouding van staatsvoertuie geregverdig is.

Die stoorkamer op Ondangwa se rakke was leeg, terwyl die meganiese afdeling van die werkswinkel buite werking was.

’n Besoek aan die regering se sportklub het bevind dit ondergaan instandhoudingswerk deur ’n “sekere huurder onbekend aan die ministerie van werke en vervoer”, terwyl die klub ook glo onwettig en sonder die kennis van die ministerie aan iemand anders oorgedra is.

Vier staatskaravane is op Oshivelo besoek, met twee wat uitmekaar val, maar steeds deur personeel van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit bewoon word deur ’n “gentleman’s agreement” vir die “huur”.

Volgens die komitee deel alle staatskaravane in die streke dieselfde vervalle toestand en is dit “moeilik om te glo dat mense hier woon”. Sommige staatshuise, veral op Oshakati, word bewoon deur afgetrede personeel wat geen huur betaal nie.

Huurders het ook geen verhuringsooreenkomste nie, terwyl die ministerie van werke ook opgehou het om waterlekkasies en opknappings by staatshuise uit te voer.

Die metode wat gebruik word om staatshuise te evalueer, weerspieël ook nie die werklike waarde van die bates nie, wat daartoe lei dat dit vir ’n appel en ’n ui verkoop word.

Die “gebruiklike” verdwyning van tenderdokumente in die ministerie van werke word na bewering veroorsaak deur beamptes wat met tenderaars “konkel” om die tenders te wen. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer