gENOCIDE
gENOCIDE

Volksmoordreparasie: ‘Vat dit of los dit’

Nandi-Ndaitwah waarsku afstammelinge
Daar word saamgestem dat die beginsel van gee en neem 'n rol speel maar dit beteken nie die Namibiese regering meen dat die voorgestelde aanbod genoeg is nie, sê die visepresident.
Jemima Beukes
Die visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die Nama- en Ovaherero-volksmoordslagoffers se afstammelinge gewaarsku om hul skadevergoedingseise noukeurig te oorweeg.

Sy het beklemtoon dat geopolitieke ontwikkelings die uitkoms van onderhandelinge kan beïnvloed, en voer aan dat afstammelinge dalk die geleentheid óf kan misloop óf uitgerekte onderhandeling in die gesig staar, indien hulle die bedag daarop is nie.

Die visepresident het hierdie opmerkings gemaak tydens die opening van die Forum vir Hoofmanne wat in Windhoek gehou is, waar die omstrede gesamentlike verklaring waarin Duitsland N$18,6 miljard oor 30 jaar beloof het, onder die loep geneem is.

“Om ons hoop op eksterne organisasies te vestig vir ’n volksmoord wat meer as 120 jaar gelede in Afrika gepleeg is deur een van die huidige ekonomiese moondhede in die wêreld, naamlik Duitsland in hierdie geval, mag ons nie noodwendig in hierdie hoogs gepolariseerde internasionale politieke orde help nie.

“Dit is dus belangrik vir ons om aandag te gee en te waardeer wat uit hierdie onderhandelinge bereik is en aan te dui waar verbeterings gemaak moet word indien nodig,” het sy gesê.

Sy het hulle ook aangemoedig om in gedagte te hou dat die konsensus wat tot dusver bereik is nie perfek is nie en ook nie aan al die verwagtinge van die geraakte gemeenskappe en die Namibiese burgers in die algemeen voldoen nie, gegewe die impak van die volksmoord van 1904-’08.

Volgens haar behoort hulle egter almal saam te stem dat die beginsel van gee en neem ’n rol speel maar dit beteken nie die Namibiese regering meen dat die voorgestelde aanbod genoeg is nie.

“Ons het nou vir Duitsland gekry om in te stem om hom te verbind om hierdie bedrag te hersien en te heronderhandel, soos die implementering van die reparasiebetaling voortgaan.

“Laat ek dit duidelik stel dat die konsensus wat tot dusver bereik is nie die ooreenkoms tussen Namibië en Duitsland uitmaak nie.

“Die verstandhouding wat deur die twee regerings bereik is, sal aan die Nasionale Vergadering voorgelê word vir verdere bespreking en aantekening, voor die hele proses afgehandel word,” het Nandi-Ndaitwah gesê.

Aan die ander kant het sy die gemeenskappe verseker dat die regering nie met die vergoedingsfonds (atonement fund) sal inmeng nie, maar 'n valkoog oor die fonds sal hou om te verseker dat dit vir die beoogde doel gebruik word en die lewensomstandighede van die afstammelinge verbeter.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer