'Wet beskerm nie plaaslike klein myners'

Augetto Graig
Sedert September word aansoeke vir kleims van Namibiese klein mynbouers, waar daar reeds vir eksklusiewe eksplorasielisensies (EPL) aansoek gedoen is, nie meer deur die ministerie van myne en energie aanvaar nie.

Die ministerie se uitvoerende direkteur Penda Ithindi het op navraag gesê dit word in lyn met die wet op minerale gedoen. Ithindi sê die wet verbied in afdeling 16(2) ‘n houer van ‘n nie-eksklusiewe prospekteerlisensie (NEPL) om vir ‘n kleim aansoek te doen binne ‘n gebied waar daar reeds mineraalregte toegeken is, of voor aansoek gedoen is.

Dié wysiging in die toepassing van die wet is nooit amptelik bekendgestel nie.

Die klein mynbouer Stanley Kambonde moes op 11 September by die ministerie hoor sy aansoek vir drie kleims gaan nie aanvaar of oorweeg word nie. Kambonde het op 20 September ‘n appèl van 38 bladsye by die streeksgoewerneur ingedien. Aangeheg was die toestemming van die betrokke tradisionele owerheid. Tot op hede het hy nog geen terugvoering ontvang nie.

Ithindi het aan Republikein bevestig die ministerie ontvang maandeliks gemiddeld tussen 100 en 200 aansoeke vir mineraalregte. Hy stel voor klein mynbouers wat vir ‘n kleim wil aansoek doen, moet eers op die openbare landkaart seker maak of daar nie reeds aansoeke ingedien is vir die gebied waar hulle wil myn nie. Die landkaart is op https://portals.landfolio.com/namibia beskikbaar.

Kambonde sê op sy beurt NEPL-houers moet eers ‘n mynboukleim moet uitpen voor daarvoor aansoek gedoen kan word. “Hierdie besluit beteken dat NEPL-houers landswyd nie ‘n kleim sal kan uitpen of daarvoor sal kan aansoek doen, as die koördinate binne die gebied van 'n bestaande of 'n hangende EPL val nie. Die besluit beïnvloed nie net klein mynbouers nie, maar ook ander Namibiërs en Namibiese ondernemings wat eksplorasie of mynbou op kleims wil beoefen,” verduidelik hy.

Kleims is beperk tot Namibiese burgers en ondernemings en laat beprekte mynbou-aktiwiteite toe. EPL’s dek groter gebiede en laat net eksplorasie toe. Aansoeke vir kleims kos N$250 elk, terwyl EPL-aansoeke duisende Namibiese dollar beloop. Die meerderheid Namibiese mynbouers voldoen nie aan die streng vereistes vir EPL-aansoeke nie, sê Kambonde.

Hy verduidelik Namibiërs raak danksy kleims by mynbou betrokke en verwys na voorbeelde soos Kunene Crush Stones en Kaokoland Mining wat in die verlede suksesvol kopererts aan die smelter in Tsumeb kon verskaf.

“Die hele mynbedryf en nie net kleinskaalse myners kan negatief deur hierdie besluite geraak word. Dit is omdat kleimhouers 'n deurslaggewende rol in die hele mynbou-waardeketting speel,” sê Kambonde.

Tekla Mutero, stigter en president van die Ontluikende Mynvereniging van Namibië, was onbewus van die jongste verwikkeling toe Republikein haar vir kommentaar genader het. Volgens Mutero is daar ‘n wanbalans tussen klein mynbouers se regte en die regte van EPL-houers in Namibië. Boonop is die uitdaging in die Erongostreek dat byna die hele streek reeds deur EPL’s bedek is. Baie EPL-houers weier ook dat klein mynbouers op hul grond werk en hou vir lank die EPL in hul besit terwyl daar vir kopers of beleggers gesoek word. EPL- houers doen dikwels aansoek vir verskillende tipes minerale, wat gevolglik ook effektief klein mynbouers uitsluit, sê Mutero.

“Die ministerie besoek skaars ons plaaslike klein mynbouers en daar is geen inklusiwiteit nie. Ons insette word nie gevra nie en ons word ook nie ingelig nie. Die fokus is net op die grootskaalse operateurs,” sê sy.

Die meerderheid klein mynbouers is volgens haar benadeelde Namibiërs, kwesbaar, verarm en baie het geen onderrig gehad nie. Toegang tot die internet word deur eenvoudige selfone en ‘n gebrek aan netwerk gekortwiek. Verder kan betalings aan die ministerie slegs in Windhoek gedoen word. Dit by een kassier wat net tot 12:00 werk en baie ander kliënte ook moet help. Klein mynbouers moet noodgedwonge uit verafgeleë plekke na die hoofstad reis en seker maak hulle kom vroegoggend in Windhoek aan, anders moet hulle iewers oorslaap.

“Die wet beskerm nie plaaslike klein mynbouers nie,” sê Mutero.

Die vereniging het ‘n netwerk van sowat 700 klein mynbouers en sy skat meer as 3 000 Namibiërs maak landswyd hul bestaan uit kleinskaalse mynbou. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-10-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 16° | 36° Rundu: 18° | 37° Eenhana: 20° | 38° Oshakati: 21° | 37° Ruacana: 20° | 38° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 37° Windhoek: 19° | 34° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 14° | 20° Wind speed: 25km/h, Wind direction: S, Low tide: 02:48, High tide: 09:42, Low Tide: 16:12, High tide: 22:29 Swakopmund: 14° | 17° Wind speed: 31km/h, Wind direction: SW, Low tide: 02:46, High tide: 09:40, Low Tide: 16:10, High tide: 22:27 Walvis Bay: 15° | 28° Wind speed: 39km/h, Wind direction: SW, Low tide: 02:46, High tide: 09:39, Low Tide: 16:10, High tide: 22:26 Rehoboth: 19° | 35° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 29° Ariamsvlei: 24° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 20° | 37° Lubumbashi: 18° | 32° Mbabane: 16° | 32° Maseru: 16° | 33° Antananarivo: 11° | 28° Lilongwe: 20° | 30° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 19° | 34° Cape Town: 14° | 23° Durban: 18° | 23° Johannesburg: 20° | 33° Dar es Salaam: 24° | 30° Lusaka: 19° | 31° Harare: 16° | 29° #N/A #N/A