Wetsontwerp ‘kriminaliseer noodsaaklike vryhede’
Demokratiese kernwaardes in gevaar, sê EPRA
In 'n verslag word daar 'n beroep op die regering gedoen om die wetsontwerp op openbare byeenkomste te hersien sodat dit aan demokratiese beginsels en internasionale standaarde kan voldoen.
“Die [wetsontwerp op openbare byeenkomste en optogte], in sy huidige vorm, is ’n ernstige regressie van demokratiese waardes en die beskerming van menseregte.”
Dit is volgens ’n verslag deur die Vereniging vir Ekonomiese Beleidsnavorsing (EPRA) wat die betrokke wetsontwerp ontleed het.
Die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, dr. Albert Kawana, het die wetsontwerp op 7 Augustus vanjaar in die parlement ter tafel gelê.
“Die wetsontwerp se bepalings is nie net teenstrydig met internasionale standaarde vir menseregte nie, maar ook met die grondwetlike waarborge van Namibië.
“Dit stel buitensporige beperkings op openbare vergaderings, kriminaliseer noodsaaklike vryhede en verleen buitensporige magte aan owerhede.”
So lui die EPRA se verslag wat op 27 Augustus uitgereik en gefinansier is deur vrywillige bydraes van dié vereniging se lede en ondersteuners.
Volgens die verslag stel die wetsontwerp die demokratiese kernwaardes van deursigtigheid, aanspreeklikheid en die beskerming van burgerlike vryhede in gevaar.
“Ons doen ’n beroep op die regering om die wetsontwerp te heroorweeg en dit te hersien om aan demokratiese beginsels en internasionale standaarde te voldoen.”
POLITIEKE VRYE SPRAAK
Die wetsontwerp is daarop gemik om openbare byeenkomste en optogte te reguleer wat gehou word met die doel om te betoog teen of ter ondersteuning van standpunte, beginsels, beleid en/of ’n persoon of die staat se versuim om op te tree.
Dit sluit ook die oorhandiging van klagskrifte en die bekendstelling van ’n saak of ’n veldtog in.
Die EPRA het in sy verslag gewys op die feit dat die wetsontwerp die doel van ’n byeenkoms of optog beklemtoon, eerder as die grootte daarvan.
“Die klem op die doel, eerder as grootte, beteken dat dit hoofsaaklik (maar nie uitsluitlik nie) op politieke vrye spraak gemik is.”
BEPERKINGS EN REËLS
Volgens die wetsontwerp sal ’n organiseerder van ’n openbare byeenkoms verantwoordelik gehou word vir enige gevolge wat uit die saamtrek voortspruit.
Die organiseerder kan ’n boete van tot N$5 000 of ’n jaar tronkstraf opgelê word.
Beperkings word geplaas op protesoptogte binne 500 meter van howe, die Nasionale Raad, die Nasionale Vergadering, Staatshuis, lughawens, ambassades, geboue wat deur buitelandse sendings gebruik word, militêre geboue, tronke en geboue wat deur die nasionale intelligensie gebruik word.
Kennisgewing van die beplande byeenkoms of optog moet ten minste vyf dae voor die tyd gegee word, terwyl toestemming by die polisiehoof of naaste stasiebevelvoerder van die polisie verkry moet word.
STANDAARDE
Die EPRA meen dat die wetsontwerp in skrille kontras is met gevestigde internasionale standaarde oor vryheid van vergadering (freedom of assembly).
Met spesifieke verwysing na die Verenigde Nasies se spesiale rapporteurs en die Afrika-kommissie vir Menseregte, beweer die EPRA dat dié vryheid ’n fundamentele demokratiese reg is wat teen onbehoorlike beperkings beskerm moet word.
“Die wetsontwerp se streng vereistes rakende kennisgewing en magtiging ondermyn hierdie standaarde.
“Dit verander ’n fundamentele reg, na ’n voorreg wat onderhewig is aan buitensporige burokratiese beheer,” meen die EPRA.
In sy verslag verwys die EPRA ook na ’n uitspraak deur ’n Suid-Afrikaanse hof wat soortgelyke beperkende maatreëls as ongrondwetlik verklaar het.
Dié hof het ’n wet ongeldig verklaar wat die versuim om owerhede van ’n openbare byeenkoms in kennis te stel, gekriminaliseer het.
Dit het dit as ’n “onregverdigbare beperking op die reg op vreedsame byeenkomste” beskou.
“Die wetsontwerp op openbare byeenkomste en optogte se benadering tot verpligte magtiging en strafregtelike strawwe weerspieël hierdie ongrondwetlike elemente,” het die EPRA in sy verslag gesê.
POLISIE EN WAPENS
Die Popular Democratic Movement (PDM) se woordvoerder, Hidipo Hamata, het ook ernstige kommer uitgespreek nadat die wetsontwerp verlede maand ter tafel gelê is.
“Die wetsontwerp se breë polisiemagte, insluitend die gebruik van dodelike geweld as ’n laaste uitweg, wek kommer oor moontlike skendings van basiese regte.”
Die politieke ontleder en woordvoerder van Civic 264, Bradley Tjongarero, het destyds ook die regering versoek om die wetsontwerp te bestudeer en noukeurig te bespreek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie