Wie is die nuwe leiers?

'n Blik van naderby
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het die nuwe lede van haar kabinet aangekondig. Namibian Sun se redakteur Toivo Ndjebela het na haar nuwe aanstellings gaan kyk.
Toivo Ndjebela
Wie is die nuwe leiers?



’n Blik van naderby



President Netumbo Nandi-Ndaitwah het Saterdag die nuwe lede van haar kabinet aangekondig. Namibian Sun se redakteur Toivo Ndjebela het na haar nuwe aanstellings gaan kyk.



Lucia Witbooi: Adjunkpresident

Witbooi, gebore op 21 Maart 1961 op Gibeon, is ’n gesoute opvoeder wat 27 jaar aan onderwys gewy het, hoofsaaklik by die Dr. W.M. Jod Primêre Skool. Witbooi, wat vir die eerste keer in 2009 tot die Nasionale Vergadering (NV) verkies is, is sedertdien ’n aktiewe parlementslid. Sy het voorheen as die adjunkminister van binnelandse sake gedien en voor dit as die adjunkminister van geslagsgelykheid.



Dr. Elijah Tjitunga Ngurare: Eerste minister

Ngurare is op 28 Oktober 1970 gebore. Hy kom van die Katjinakatji-nedersetting in die Kavango-Wesstreek. Hy het grade in waterhulpbronbestuur, internasionale en vergelykende waterreg en ’n doktorsgraad in omgewingsreg aan die Nasionale Universiteit van Ierland verwerf. Hy was die sekretaris van die Swapo-jeugliga (SPYL) tussen 2007 en 2015. In 2015 is hy uit Swapo geskors, maar is later weer aangestel nadat hy die skorsing in die hof betwis het.



Natangwe Paulus Ithete: Adjunk- eerste minister en minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling

Ithete is op 9 Januarie 1976 gebore. Voordat hy in 2015 die hoofstroompolitiek betree het, het hy as waardasie- en inspeksiebeampte by Agribank gewerk. Hy het verskeie leiersrolle beklee, insluitend in SPYL, die Nasionale Jeugraad, Nanso en Nafinu. Tussen 2015 en 2020 het hy as adjunkminister van finansies onder president Hage Geingob gedien. Ithete beskik oor kwalifikasies in menslike hulpbronne, arbeidsverhoudinge, eiendomsfinansiering, ekonomie en bankwese.



Ericah Shafudah: Minister van finansies en maatskaplike toelaebestuur

Die 62-jarige Shafudah, ’n oorlewende van die Cassinga-slagting, is in die Eendadi daShafudah-nedersetting in die Ohangwenastreek gebore. Sy het haar loopbaan as onderwyseres begin voordat sy ’n ekonoom by die Nasionale Beplanningskommissie geword het.

In 2002 het sy by die ministerie van finansies aangesluit en van ondersekretaris van tesourie tot uitvoerende direkteur gevorder. In 2021 het sy die regering verlaat om as konsultant vir die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselprogram te werk. Shafudah beskik oor veelvuldige kwalifikasies, insluitend meestersgrade in biostatistiek, onderwys en leierskap, sowel as ’n diploma in rekeningkunde en finansies, wat haar kundigheid in finansies, strategie en institusionele hervorming versterk.



Frans Kapofi: Minister van verdediging en veterane sake

Gebore op 25 Januarie 1953 in Onaame in die Ohangwenastreek, is Kapofi waarskynlik die veteraan van alle nuwe aanstellings. Nadat hy tussen 1990 en 1999 as permanente sekretaris in verskeie ministeries gedien het, het hy vanaf 1999 tot 2015, toe hy as die minister van presidensiële sake aangestel is, as sekretaris van die kabinet gedien. Sy hoogste kwalifikasie is ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie van die Oos- en Suider-Afrikaanse Bestuursinstituut in Tanzanië.



Lucia Iipumbu: Minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit

Gebore op 20 November 1975 in Onnamenga naby Elim in die Omusatistreek, het Iipumbu beide ’n baccalaureus- en ’n meestersgraad in administrasie aan die Universiteit van Namibië verwerf. Sy was aktief in SPYL, waar sy as sekretaresse vir finansies gedien het. Sy het voorheen vir die staat se pensioenfonds (GIPF) gewerk as hoof van die voordeleverwerkingseenheid. Haar parlementêre reis het in 2015 begin toe sy as adjunkminister van ekonomiese beplanning aangestel is. Sy het later as adjunkminister van handel gedien en in Maart 2020 is sy tot minister van handel bevorder.



Selma Ashipala-Musavyi: Minister van internasionale betrekkinge en handel

Sy is op 16 Junie 1960 op Walvisbaai gebore en is ’n gesoute Namibiese diplomaat en openbare administrateur met meer as 30 jaar se ondervinding. Sy het sleutelposisies beklee, onder meer as Namibië se ambassadeur in Oostenryk, die hoë kommissaris in Nigerië en uitvoerende direkteur van internasionale betrekkinge. Internasionaal het sy op die VN se sekretaris-generaal se adviesraad oor ontwapeningsaangeleenthede gedien.

Nadat sy in 2020 as uitvoerende direkteur in die ministerie uitgetree het, is sy as hoë kommissaris in Ghana aangestel. Sy het 'n meestersgraad in diplomatieke studies van die Universiteit van Keele in die Verenigde Koninkryk.



Dr. Mac Albert Hengari: Minister van landbou, visserye, water en grondhervorming

Hengari is ’n Namibiese akademikus en hernubare energiebestuurder met meer as 20 jaar se ondervinding. Hy het tot onlangs gedien as die voorsitter van Alpha Namibia Industries Renewable Power Ltd (Anirep), ’n maatskappy wat op hernubare energie-oplossings gefokus het. Hy het ook sleutelposisies beklee as die direkteur van die Namibië Sakeskool en as die hoofekonoom by die Namibië Beleggingsentrum. Hy het ’n MBA van die Universiteit van Bristol en ’n nagraadse graad van die Universiteit van Surrey. Sy ouderdom is onbekend.



Sanet Steenkamp: Minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur

Steenkamp, gebore op Karasburg op 29 Oktober 1972, het ’n meestersgraad in onderwys van die Rhodes Universiteit. Sy was tot haar aanstelling in die kabinet die uitvoerende direkteur in die onderwysministerie. Sy het voorheen as direkteur van onderwys in die Ohangwenastreek gedien. Sy het haar vir inklusiewe onderwys beywer en seksuele gesondheid en MIV/vigs-bewustheid bevorder. Steenkamp is die voorsitter van die Rural Health Integrated Network en pleit vir deursigtigheid in onderwysbestuur.



Dr. Esperance Luvindao: Minister van gesondheid en maatskaplike dienste

Luvindao is ’n mediese dokter, gesondheidskampvegter en openbare spreker wat in 1994 in Namibië gebore is met haar ouers wat van die Demokratiese Republiek die Kongo is. Sy het haar mediese graad aan die Universiteit van Namibië se mediese skool verwerf. Sy het ook ’n MBA van die Bestuurskollege van Suider-Afrika, ’n nagraadse diploma in openbare gesondheid van die Universiteit van Pretoria en sertifikate in uitvoerende en bestuursafrigting van die Universiteit van Kaapstad verwerf.



Indileni Daniel: Minister van die omgewing en toerisme

Daniel is die distrikskoördineerder vir die Swapo-vroueraad (SPWC) in die Windhoek-Wes-kiesafdeling. Voor haar aanstelling was die 60-jarige van die Oshandi-nedersetting in die Ohangwenastreek die hoof van die afdeling vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) by Stad Windhoek. Sy het voorheen as afstandsonderrigkoördineerder by die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) gewerk. Sy was ook verbonde aan die Anglikaanse Bisdom van Namibië en het aan die Universiteit van Namibië studeer.



Emma Theofelus: Minister van inligting en kommunikasietegnologie

Theofelus, wat Vrydag 29 jaar oud word, is op 28 Maart 1996 in Windhoek gebore. Sy is die jongste lid van die kabinet en het voorheen as adjunkminister van inligting gedien voordat sy in Februarie 2024 tot minister bevorder is. Sy het gedien as adjunkspeaker van Namibië se kinderparlement, wat vir kinderregte en volhoubare ontwikkeling gepleit het. Sy het ’n LLB- honneursgraad aan die Universiteit van Namibië verwerf.



Veikko Nekundi: Minister van werke en vervoer

Gebore op 24 November 1977 in die Otshitutuma-nedersetting in die Omusatistreek, het die voormalige SPYL-adjunksekretaris in 2015 by die Nasionale Vergadering aangesluit. Hy het gedien as ’n adjunkminister van staatsondernemings en later werke en vervoer. In 2013 het hy ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) aan die Universiteit van Namibië verwerf.



Dr. Emma Kantema: Minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn

Gebore op 16 Augustus 1978 in Rupara in die Kavango-Wesstreek, was Kantema die adjunkminister van jeug en sport tot en met haar bevordering oor die naweek. Sy het ook voorheen as ’n uitvoerende direkteur in die regering gedien. Sy is ’n lid van Swapo se sentrale komitee en het ’n doktorsgraad in besigheidsadministrasie aan die Universiteit van Namibië verwerf.



James Sankwasa: Minister van stedelike en landelike ontwikkeling

Gebore op 5 Mei 1955 in Sikanjabuka in die Zambezistreek, het Sankwasa die pos van adjunkminister van werke tussen 2015 en 2020 beklee. Hy het ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie aan die Thames Valley Universiteit in Londen (1997) verwerf, asook ’n meestersgraad in gesondheidsbestuur, beplanning en beleid van die Leeds Universiteit (1994). Sy loopbaan strek wyd, insluitend die uitvoerende hoof van New Era en direkteur van bilaterale sake in die destydse ministerie van buitelandse sake.



Fillemon Wise Immanuel: Minister van justisie en arbeidsverhoudinge

Tot en met sy aanstelling het Immanuel as maatskappysekretaris by die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) gedien. Hy is sedert 2022 ’n lid van die Namibiese Kwalifikasie-owerheid (NQA) se raad. Hy het voorheen as president van die Universiteit van Namibië se studenteraad gedien en het ’n honneursgraad in regte verwerf. Hy het ook as ’n leierskapontwikkelingsbeampte by die universiteit gewerk.



Festus Mbandeka: Prokureur-generaal

Mbandeka is in die pos van prokureur-generaal heraangestel, wat hy oorspronklik in Maart 2020 betree het. Hy is ’n toegelate regspraktisyn van die Namibiese hoërhof en het voorheen onder meer as die uitvoerende hoof van die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) gedien. Hy het in 1995 sy LLB-graad aan die Universiteit van Natal in Durban verwerf. Sy ouderdom is onbekend.



Dr. Kaire Mbuende: Direkteur-generaal, Nasionale Beplanningskommissie

Mbuende, gebore op 28 November 1953 in Windhoek, is ’n politikus en diplomaat wat ’n doktorsgraad in ekonomiese sosiologie en ’n honneursgraad in ekonomiese geskiedenis en sosiologie aan die Lund Universiteit in Swede verwerf het. Hy het voorheen gedien as die adjunkminister van landbou, uitvoerende sekretaris van SADC, adjunkminister van buitelandse sake en ambassadeur by die Verenigde Nasies, België en die Europese Unie.

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer