Beesboerdery: Twee somme vir wins

Die noodsaaklikheid van ’n vroegryp koeikudde
'n Boer sê sy sleutel tot sukses is kleiner, meer doeltreffende koeie wat kalwers lewer wie se speengewig 'n groter persentasie van die ma se gewig is.
Elvira Hattingh
“As ’n boer fokus ek hoofsaaklik op twee somme, want ek glo dit is die 20% wat 80% verskil in jou winsgewendheid in ’n boerdery gaan maak.

“Die eerste is jou inkomste per hektaar, wat ek uitwerk deur produksie per ha te vermenigvuldig met die prys wat ek per kg verdien. Die prys is ’n gegewe, daaraan kan ek as boer niks verander nie.

“Die tweede is produksie per ha, wat bepaal word deur jou bestokkingsyfer maal die bees se voeromset op gras.”

So gesels Roelie Venter, die uitvoerende hoof van die Namibië Landbou-unie (NLU) en self ook ’n boer. Hy het tydens die Kamab Simbra-beesinligtingsdag gesê hy praat met teenwoordigers as ’n medeboer en wat vir hom werk.

Hy sê hy vind dat beeste se voeromset op gras sowat 35% is.



KOEIE

“As ek nie ’n vroegryp koeikudde het nie, sal dié somme nie klop nie,” het Venter gesê.

Hy sê die koeie moet ’n inherente goeie kondisie op die veld handhaaf, wat help om koste laag te hou.

“Ek verwys na Peter Zensi se syfers wat kommersieel naby Kombat boer. Hy het syfers van koeigewigte bygehou en bewys dat, hoe swaarder die koei, hoe laer is die speengewig van haar kalwers, uitgedruk as ’n persentasie van haar eie gewig.

“Kleiner koeie is meer doeltreffend. Ons kan nie redeneer dat ons met swaarder koeie moet boer om meer winsgewend te wees nie,” het Venter gesê.



ONTLEDING

Venter het verwys na ’n ontleding wat deur die NLU uitgevoer is oor wat die impak op winsgewendheid is as bestokking, vrugbaarheid en koeigewig met 20% opgestoot word.

In ’n koei-os-produksiestelsel het dit neergekom op ’n verbeterde opbrengs van onder meer N$22/ha per jaar en N$17/ha as bestokking en vrugbaarheid met 20% verbeter het. Daarteenoor het koeie wat 20% swaarder was in so ’n stelsel beteken ’n boer se opbrengste is net N$1/ha.

Binne ’n speenkalfproduksiestelsel kan ’n boer sy opbrengs verbeter met onderskeidelik N$11/ha en N$15/ha as bestokking en vrugbaarheid met 20% opgestoot kan word, waar daar ’n verlies van N$13/ha gemaak word as koeigewig met 20% toeneem.

Die ontleding is gedoen op beide ’n speenkalfproduksie – asook ’n koei-os-produksiestelsel, op ’n plaas van sowat 7 500 ha waar die gemiddelde bestokkingsyfer 35 kg per ha is. ’n Prys van N$35 per kg is vir speenkalwers gebruik en N$58 per kg vir ’n slagdier.

“Ek het hieruit geleer dat die twee grootste faktore wat my winsgewendheid en oorlewing beïnvloed, die bestokkingsyfer en vrugbaarheid is.



BALANS

Venter sê dit is nodig dat boere ’n balans tussen hierdie faktore vind om die optimale wins per ha te maak.

“Elke plaas het sy eie produksiepotensiaal. Dit is afhanklik van die weidingstoestand, jou bestuursvermoë, die produksiestelsel wat jy gebruik, die tipe bees en hoeveel reën jy kry.

“Die bestuurder se rol is egter om die regte balans te vind tussen die bestokking per ha en sy kuddeprestasie,” het Venter gesê.



WEIDING

Ons moet ’n kopskuif maak en op produksie per ha en wins per ha fokus en nie op wins per dier nie. Ons moet soos gewasboere dink – hulle weet wat is hul oeste en winste per ha. Hoekom weet ons nie wat is ons opbrengs per ha nie?”

Venter meen beesboere moet begin kyk na ou foto’s om te besef dat verbossing nie normaal is nie en daarin belê om dit te verbeter.

“Identifiseer ’n bestuurstelsel wat inpas by jou bestuursvermoë sodat jy jou plaas se potensiaal kan realiseer. Die bees moet aanpas by jou weidingsbestuurstelsel en nie andersom nie.

“Ek moet bly fokus op die aanpasbaarheid van my koeikudde. In my geval, waar ek by Buitepos boer, moet ek bulle kies met ’n inherente goeie liggaamskondisie en goeie bespiering.

“Ek moet my prestasie voortdurend bereken,” het Venter gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!