Goeie oeste wink vir akkerbouers

Francoise Steynberg
Akkerbouers in die noorde, noordooste en ooste van die land glimlag van oor tot oor nadat dié gebiede goeie reënneerslae gehad het en goeie oeste wink.

Mielieboere verwag goeie oeste, so ook grondboontjieprodusente, maar vooruitsigte vir koringoeste lyk nie belowend nie.

“Almal is so bly oor die reën, niemand gaan nou kla oor ’n storm of skade nie,” het die voorsitter van die Akkerbouprodusente-vereniging, Gerhard Engelbrecht, aan Agri Monitor gesê en bygevoeg dat daar tydens die swaar reënstorms by Grootfontein nie enige skade of verspoelings aangemeld is nie.

Vir witmielies is die spertyd vir besproeiingsprodusente om hul vooruitskattingsdata by die Namibiese Akkerbouraad (NAB) in te dien die einde Februarie en vir droëlandboere 21 Maart.

“Die reën was hierdie seisoen bietjie later as normaal, steeds betyds, maar van die mielies onder droëland is laat geplant. Ons skatting is dat 50% van droëland geplant is,” het Engelbrecht gesê.

“Almal was versigtig hierdie jaar en dit het veroorsaak dat boere bietjie laat geplant het, maar met die afgelope goeie reën lyk dit goed.”

Engelbrecht verduidelik in die begin van die reënseisoen het neerslae kol-kol geval, maar kom nou wydverspreid in die produksiegebiede van die Kavangostreke, Karstgebied en die Ooste voor.

Sy reënlesing vir die seisoen op die plaas Hoba in die Grootfontein-distrik staan so by die 500 mm en bogemiddelde neerslae van meer as 550 mm is in die Otavi-vallei aangemeld. By die groenskemas in die Kavango-Oosstreek is sowat 440 mm gemeet.

Oestyd vir witmielies onder besproeiing begin normaalweg 1 Mei, maar daar is besproeiingsboere wat in April al begin oes.

“Vanaf Junie begin die droëlandoeste inkom.”

Engelbrecht sê plaaslike witmielieprodusente kry 8% meer as die invoerprys.

In die Suide word egter ’n minder rooskleurige prentjie vir witmielies onder besproeiing geskets. Weens die besproeiingskrane van die Hardapdam wat in Oktober 2024 toegedraai is, is daar nie witmielies by die Hardapskema geplant nie. Dieselfde geld vir koring, omdat die dam se watervlak op sy laagste ooit in die geskiedenis was.

Engelbrecht sê die situasie met koring is moeilik, veral met die hemelhoë kragtariewe.

“Ons kry nie die krag uitgesorteer nie. Daar is ’n stoeiery met Nored, want ons kan nie koring plant as gevolg van die hoë kragtariewe nie. Kragrekeninge is te duur. Ons is ’n warm land, ons kry nie hoër opbrengste nie,” verduidelik hy.

Volgens Engelbrecht het die Kavangostreke altyd baie koring geplant, maar plant niks meer nie hoofsaaklik weens die hoë elektrisiteitsrekeninge.



GRONDBOONTJIES

“Die storms kan maar kom, ons kla nie. Die afgelope goeie neerslae het baie gehelp, beaam Dawie Kok wat bemoeid is met grondboontjieproduksie by die Akkerbouprodusente-vereniging.

“Daar is heelwat grondboontjies op droëland in die Grootfontein-gebied geplant. By Summerdown is nie so baie soos laas jaar geplant nie, ’n bietjie minder. Hulle het te veel laas jaar geplant en kan nie op dieselfde grond twee keer plant nie.”

Volgens Kok is sowat 500 hektaar grondboontjies op droëland geplant en onder besproeiing sowat 600 hektaar.

Kok sê grondboontjies hou van die reën en die son en nog ’n voordeel is dat die valskommandowurm wat die mielies eet, nie grondboontjies so erg beïnvloed nie.

“Die vooruitsigte van oeste lyk goed. As ons in Maart opvolgreën kry en ons kry nog Paasnaweek ’n buitjie, dan begin ons van Mei af oes.

“Ons verwag op droëland ’n oes van 1 000 kg per hektaar – altesaam 500 ton – en sowat drie ton per hektaar onder besproeiing – altesaam 1 800 ton. Dit is sowat 2 200 ton pitte, want 35% van die vrag is die doppe.

“Ons koppe is deur met die grondboontjies en veral omdat dit so diep natgemaak het, kan ons met opvolgreën deur die jaar kom,” sê Kok.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer