Hidro-, akwaponika vir die toekoms?

Kenner oor waterslimstelsel
Akwa- en hidroponika gebruik nie net 90% minder water as konvensionele boerderymetodes nie, maar bied boonop antwoorde oor 'n tekort aan landbougrond.
Elvira Hattingh
In Namibië moet ons die ou of tradisionele maniere van boer heroorweeg. Ons het nie genoeg reën nie en ons grond gaan agteruit. Dalk het dit tyd geword om die ou manier van boer met nuwe tegnologie te kombineer.

Só het Penny Haufiku van Agra ProVision tydens die onlangse AgriXtra-boeredae op Grootfontein gesê.

Sy het ’n praatjie gelewer oor akwa- en hidroponika, wat nie net 90% minder water as konvensionele boerderymetodes gebruik nie, maar boonop antwoorde bied oor hoe ’n tekort aan landbougrond getakel kan word.

Haufiku spog met verskeie kwalifikasies agter haar naam. Vóór sy in 2021 by Agra begin werk het, het sy ’n BA-graad in landbou asook ’n ’n BA-graad in volhoubare landbou voltooi. Sy het ook twee meestersgrade – een in die bestuur van natuurlike hulpbronne en nog een in entrepreneurskap.

Sy het aan Agri Monitor vertel sy studeer sedert 2016 ononderbroke en het reeds vooraf goedkeuring vir haar doktorsgraad-studies, wat sy volgende jaar sal aanpak.

WATER

Sy sê statistiek toon dat Namibië se reënsyfers daal, terwyl verdampingsvlakke baie hoog is – selfs meer as die reën.

“Ons is in die moeilikheid. Daarbenewens het ons ’n tekort aan toegang tot grond en genoeg ruimte,” het sy gesê.

Binne ’n hidroponiese stelsel word water oor en oor gebruik. Boonop kan jy ’n wye verskeidenheid van groentes kweek. Dit verskil van tradisionele groenteverbouing, wat waterintensief is.

Sy het ’n hidroponiese stelsel as voorbeeld gewys wat binne Windhoek gevestig is en vars produkte aan talle restaurante binne Eros verskaf. Nog so ’n aanleg word beplan vir die Safari-hotel-gebied.

Sy sê die stelsel kan terselfdertyd verskillende gewasse kweek – volgens jou mark se behoefte. Sy het ook verskeie stelsels bespreek, waar sommige “hidroponiese torings” tot 500 plantjies kan huisves.

“Die doel is net om die punte van die plantwortels nat te hou – ook nie die hele wortel nie,” het sy verduidelik.

Die stelsel kan ook vertikaal gebou word en kan self gemaak word met enige materiaal wat water kan hou.

PVC-pype word dikwels gebruik, asook beddings wat kan opvul en weer dreineer. Die plante se voedingstowwe word ook binne die water geplaas.

“’n Hidroponiese stelsel het water, voedingstowwe, sonskyn en suurstof nodig,” het sy gesê.



AKWAPONIESE STELSELS

Haufiku sê in akwaponika word hidroponiese stelsels met visboerderye gekombineer, wat dan die nodige voedingstowwe vir plante verskaf.

“In Namibië is visboerderye egter nog onderontwikkeld.”

Sy het bygevoeg dat vingerlinge byvoorbeeld aan Kamutjonga Inland Fisheries Institute (KIFI), ’n staatsaanleg naby Divundu, voorsien kan word.

“Vismis gee egter aan plante tien van die vereiste voedingstowwe wat dit benodig, wat beteken jy sal slegs jou plante van kalsium, potas en yster hoef te voorsien,” het sy bygevoeg.

Sy het verduidelik dat bakterië nodig is om visafval te verwerk sodat plante dit kan benut.

Hierdie bakterieë ontwikkel self binne ’n stelsel, terwyl akwaponika-boere net die geskikte omgewing hiervoor moet skep.

“Jy kan haarkrullers of plastiese botteldoppies binne jou watertenks plaas en dit stimuleer die ontwikkeling van die nodige bakterieë. Die bakterieë ontwikkel self, jy kan dit nie iewers koop nie.”

Haufiku sê watter vis jy gebruik, hang af van watter vis jou mark eet. Vis wat geskik vir akwaponika is, sluit in barbers, die Mosambiekse tilapia asook die gewone tilapia.

“Tilapia raak gewoonlik dormant in die winter, maar in Namibië is dit nie die geval nie, omdat dit nie so koud raak nie.”

Sy sê visse is gewoonlik teen vier of vyf maande groot genoeg om te verkoop, maar dat dit ook belangrik is om te oorweeg waar jy viskos vandaan kry.

“As jy met visse boer, moet jy ook voortdurend op die watergehalte let.

“Dit beteken daar moet genoeg suurstof in wees, die pH-vlakke moet tussen 5,5 en 6,5 gehou word en die water moet ook nie te helder wees nie – want as visse jou kan sien, gaan hulle al hul energie vermors om van jou af weg te kom. Die temperatuur moet ook reg wees, maar in Namibië is die temperatuur van die water oor die algemeen gunstig vir visse.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!