Landbou 4.0 is hier

Landbou-tegnologie groei eksponensieel
Landbou 4.0 verwys na die benutting van data, sensors en geoutomatiseerde stelsels om 'n nuwe era van landbouproduktiwiteit en doeltreffendheid te skep.
Elvira Hattingh
Dit gons wêreldwyd dat die era van Landbou 4.0 aangebreek het wat die landbousektor na verwagting sal transformeer tot ’n glad geoliede masjien wat doeltreffend werk en maksimum opbrengste verseker.

Met behulp hiervan behoort daar mettertyd nie meer oorproduksie van sekere landbouprodukte te wees en tekorte aan ander nie, terwyl die uitbreking van peste en plae opgemerk kan word vóór dit in ’n krisis ontaard.

Landbou 4.0 verwys na die benutting van data, sensors en geoutomatiseerde stelsels om ’n nuwe era van landbouproduktiwiteit en doeltreffendheid te skep. Dit is veral van toepassing op Namibië, waar droogtes moontlik meer gereeld kan voorkom en wisselvallige weerstoestande ’n risiko inhou.

Die boodskap is duidelik – landbouers sal hierdie veranderinge moet benut in ’n taai landbou-omgewing, wat deur klimaatskokke geteister word, waar die verbruiker al hoe meer vereistes stel en meer en meer mededingend raak.

Terwyl tegnologiese vooruitgang reeds sedert die tweede helfte van die 20ste eeu tot en met die begin van die 21ste eeu vir uitstekende innovering in die landbousektor gesorg het, sê landbouondernemings soos Bayer dat tegnologie tans teen ’n eksponensiële pas groei.

Nuwe tegnologie moet landbouers bystaan in die ontleding van onder meer grond, die gesondheid van hul gewasse en ander beperkings vir produksie en help om oesopbrengste meer doeltreffend te voorspel en dat daar vinniger by markveranderinge aangepas kan word.



PRESISIEBOERDERY

Een van die mees beduidende veranderinge is die oorskakeling na presisieboerdery en die gebruik van geoutomatiseerde verwerkingstelsels.

Moderne tegnologie, soos globale posisioneringstelsels (GPS) en hommeltuie en netwerke wat data in werklike tyd versamel, maak dit vir boere moontlik om akkurate data in ’n kort tydperk in te samel.

So kan tydige besluite geneem word rakende besproeiing, bemesting en plaagbeheer, wat kan lei tot hoër opbrengste en ’n verminderde impak op die omgewing.

Fruitgrowers.com sê tegnologie het ’n revolusie te weeg gebring in hoe gewasse natgelei word, terwyl hommeltuie help met lugopnames van grond en gewasse, en dit verder optimale tye vir groei identifiseer, skedules vir wisselbou bepaal asook oesbehoeftes.

As dit by veeboerdery kom, is masjiene reeds ontwikkel wat byvoorbeeld koeie kan melk en skape kan skeer.

Kenners is van mening dat geoutomatiseerde verwerkingstelsels die potensiaal het om die landbouwaardeketting vaartbelyn te maak. Dit sal veral die geval wees as dit kom by sortering, verpakking en die vervoer van produkte.

Dit kan vir beter doeltreffendheid in die sektor sorg en waarskynlik ook verliese as gevolg van menslike foute verminder.



GMO

Terwyl Namibië nie die aanplanting van GMO-gewasse toelaat nie en talle plaaslike groepe sterk daarteen gekant is, het dit in groot dele van die wêreld vir beduidende vooruitgang in die landbousektor gesorg.

Dit sluit in dat gewasse geneties aangepas is om byvoorbeeld beter bestand te wees teen peste, siektes, sekere onkruiddoders, beter voedingswaarde te hê en beter bestand teen droogtes te wees.

Oor die afgelope 20 jaar het GMO-gewasse die behoefte aan pesdoders met soveel as 8,2% verminder, terwyl dit oeste met tot 22% verbeter het.

Die tegnologiese vooruitgang is nie altyd die gewildste keuse onder verbruikers nie, maar FruitGrowers.com meen dat die wetenskap dit duidelik maak dat GMO-gewasse veilig is en ’n waardevolle bate vir boere is.

“GMO-gewasse help om grond te bewaar, koolstofvrystellings te verminder en ook water te bespaar,” meen die organisasie.



KLIMAATSLIM

Namibië staar gereeld droogtes en onvoorspelbare weersomstandighede in die gesig. Tegnologie kan ’n groot rol speel om boere te help om klimaatslim-besluite te neem, met weermodelle en data oor die klimaat wat die landbousektor kan waarsku teen naderende, uiterste weersomstandighede.

Dit kan besluite vergemaklik soos of jy vanjaar mielies op droëland moet plant en of daar beter alternatiewe is.

Daarbenewens kan dit marktoegang verbeter – veral met behulp van e-handel en mobiele toepassings kan boere hul produkte direk aan verbruikers en groothandelaars bemark. Dit verminder die afhanklikheid van tradisionele markstrukture en maak dit vir boere moontlik om ’n breër kliëntebasis te bereik.



UITDAGINGS

Die plaaslike landbousektor staar egter nog verskeie uitdagings in die gesig as dit by toegang tot die nuwe tegnologie kom.

Baie landbouers woon in afgeleë gebiede van die land. Terselfdertyd is daar kommer dat die benutting van tegnologie tot die verlies van tradisionele kennis en praktyke kan lei.

Kenners is van mening dat die regering, private sektor en akademici moet saamwerk om tegnologiese innovasie in landbou te bevorder.

Terwyl voedselsekerheid en volhoubare landboupraktyke noodsaaklik is, kan die benutting van tegnologie ’n beduidende verskil in die Namibiese landbousektor maak.

Bronne: bayer.com, fruitgrowers.com

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!