Johan Tromp se kunsmis van swakara-wol. FOTO ELVIRA HATTINGH
Johan Tromp se kunsmis van swakara-wol. FOTO ELVIRA HATTINGH

Otavi-boer se plan vir ’n ‘nuttelose produk’

Vervaardig kunsmis uit swakara-wol
In Europa word daar ook kunsmis van skaapwol gemaak en navorsing toon dit kan tot vir ses maande lank noodsaaklike voedingstowwe aan die grond verskaf.
Elvira Hattingh
Die maak van kunsmis uit swakara-wol is nog nooit vantevore gedoen nie, dog blyk een boer uit die Otavi-omgewing uitstekende resultate met groente- en vrugteplante hiermee te behaal.

Terselfdertyd meen Johan Tromp dit kan as ’n nuwe bron van inkomste vir swakara-boere dien binne ’n internasionale pelsmark wat die afgelope jare die pas makeer.

Hy maak ’n vloeibare kunsmis van swakara-wol – ’n produk wat andersins meestal as nutteloos beskou word omdat daar nie werklik ’n mark daarvoor bestaan nie. Hy hoop om later selfs korrel-kunsmis hiervan te maak.

Johan sê hy gebruik skaapwol omdat dit 25 keer sy eie gewig in water kan absorbeer.

“Hierdie wol word met ’n hormoon behandel en vir fermentasie in groot tenks opgehang – amper soos ’n teesakkie. As die fermentasie klaar is, tap ek dit af in emmers. Dit is dan die konsentraat waarvan ek 200 ml op 20 liter water gebruik,” het hy verduidelik.



PROEWE

In Europa word daar ook kunsmis van skaapwol gemaak en navorsing toon dit kan tot vir ses maande lank noodsaaklike voedingstowwe aan die grond verskaf.

Dit maak plante se wortels sterker en is ’n goeie bron van stikstof en kalium. Boonop word daar beweer dat dit goeie grondstruktuur bevorder en help met die behoud van vog in die grond.

Johan sê egter bogenoemde konsentraat-kunsmis word meestal van merino-wol gemaak, maar dat die wol glad nie dieselfde eienskappe het as dié van swakara-skape het nie. Hy is van mening dat swakara-wol selfs beter is.

Hy het die kunsmis self eers vir drie jaar lank op sy plaas in die Otavi-omgewing getoets, voor hy dit aan ander mense beskikbaar gestel het. “Ek het dit op my lusern, op plante en op grasperke getoets,” het hy vertel.

Johan sê hy het die kunsmis ook op drie druiweplante op sy plaas op die proef gestel, wat vir jare lank skaars enige oeste gelewer het. Die druiweplante, wat bykans nooit gedra het nie, het einde Januarie 13 kg druiwe gelewer – soveel so dat hy konfyt daarvan moes laat maak. Hy het ook uitstekende resultate met sy turksvye en vye tydens toetse gekry.

Sy ma het dit ook in haar kwekery op Outjo gebruik en nog iemand toets dit vir hom op Okahandja, wat sê hy kry besonderse goeie resultate met sy groente.

Die persoon se seun toets dit ook en kry ook uitstekende resultate met sy pekanneute. Sy broer het op ’n naburige plaas ook uitstekende resultate met boontjies gekry.

“Voorheen kon hy nie daarin slaag om boontjies te kweek nie, omdat sy water te veel nitrate bevat. Met die gebruik van die kunsmis van swakara-wol het die boontjies soveel gegroei in die tonnel waarin hulle geplant is, dat daar later nie meer ruimte vir enige iets anders was nie,” het Johan vertel.

Hy vertel sy oupa het ook – waar hy jare gelede naby die Oranjerivier geboer het – opgemerk die ebbehoutbome waaronder die swakara-skape altyd gaan lê, is heelwat groter as ander bome daar naby. Johan meen die rede hiervoor is waarskynlik die swakara-skape se hare wat oor baie jare daar verloor en rondgelê het.

LANG PAD

Johan is passievol oor die behoud van die swakara-skaap, wat “die land makgemaak het” en eindelik uniek geraak het aan Namibië. “Alles wat ek doen, is ter wille van die behoud en beskerming van die swakara-ras en om te keer dat dit nie uitsterf nie,” het hy gesê.

“Ek boer self met swakara-skape in die noorde van die land. My navorsing wat ek gedoen het, toon dat die swakara-skaap besig is om uit te sterf in Namibië. Ek doen hierdie goed ter wille van die behoud van die skaapras.

“Ek werk saam met ander mense wat ook nuwe markte en nutte vir die skaapras probeer ontsluit. In die Suide maak Willem Maritz die mooiste pantoffels van swakara-leer en daar word ook proewe gedoen om die skaap vir vleis te teel,” het Johan verduidelik.

Hy sê swakara-vleis is moeilik verkrygbaar omdat dit besonders smaaklik is.

Johan sê eindelik kan die vleismark vir swakara ’n nismark wees en dat daar in die suide boere is wat probeer om die swakara terug te teel na wat hy oorspronklik was – ’n skaap met genoeg vleis.

Hy sê oor die algemeen word swakara-wol of hare as ’n oorbodige produk beskou waarvan die meeste boere ontslae raak. Vir die maak van matte – waarvoor daar wel ’n mark bestaan – word daar ook net skoon, goeie wol gesoek en boonop is die mark beperk. Dus is alle wol nie hiervoor geskik nie, het Johan gesê.

“Boere moenie hul swakara-skape tot niet maak nie. Daar kan geld verdien word uit die skaap se vel, wol en vleis. Mense wat swakara-skape het, besef nie wat hulle in die diere het nie,” het hy gesê.

Johan verkoop die kunsmis in 20 liter-emmers – die konsentraat – vir N$400. Hy kan by 081 1241916 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!