Plant-afweermiddel keer olifante

Botswana-boere ook raadop met bosreuse
Beeldmateriaal wys dat die olifante geensins deur die opening wou beweeg waar die afweermiddel teenwoordig was nie.
Elvira Hattingh
’n Bewaringstrust in Botswana het onlangs bewys dat ’n nuwe, plantgebaseerde afweermiddel vir olifante dié bosreuse kan keer om deur ’n hekopening te beweeg en heeltemal van sekere gebiede kan weerhou.

Dit sal na verwagting help om konflik tussen boere en olifante te verminder en waardevolle plaasinfrastruktuur te beskerm.

Botswana Predator Conservation, onlangs herdoop na Wild Entrust Africa (WEA), het proewe in die noorde van Botswana gedoen, waar boere voordurend konflik met olifante ervaar wat hul gewasse vreet en plattrap en draadheinings en watertenks beskadig.

WEA is ’n filiaal van die Amerikaanse Wild Entrust International (WEI).



EKSPERIMENT

Een boer in die gebied het openinge in sy draadheining gemaak vir olifante om deur te beweeg, dan hoef hy nie elke dag heinings te herstel nie.

Dit is egter nie ’n permanente oplossing nie, aangesien sy beeste ook deur die openinge kan beweeg en die olifante dan vrye toegang tot sy gewasse het.

Die trust het egter van die openinge in sy heining gebruik om die nuwe, plantgebaseerde afweermiddel vir olifante te toets, met die hoop dat dit sal help om gewasse en infrastruktuur en terselfdertyd die olifante te beskerm.

Tydens die eksperiment het die navorsers ’n tou met die afweermiddel natgemaak en dit op die grond van die opening geplaas en weerskante, aan die pale, vasgemaak. Hulle het toe kamera’s opgesit om die olifante se reaksies vas te vang.

Beeldmateriaal wys dat die olifante geensins deur die opening wou loop waar die afweermiddel teenwoordig was nie. Daarsonder sou hulle selfs deur die opening hardloop.

In die video’s kan gesien word hoe verskeie olifante naby die opening tot stilstand kom, agteruit begin loop en dan rondstaan, maar nie oor die tou wou trap waarop die afweermiddel gesmeer was nie. Al die olifante het agteruit geloop, eindelik moed opgegee en weggeloop.



AFWEERMIDDELS

Die WEA is op soek na meer sulke afweermiddels.

“Daar waar mense en olifante ’n habitat moet deel, is daar meestal konflik tussen hulle. Olifante eet gewasse en verwoes infrastruktuur en mense reageer deur olifante dood te maak.

“Die nuwe navorsing van die BioBoundary-projek, sal olifante afweer en beide mense- en olifante se lewens red, terwyl infrastruktuur ook gespaar sal bly,” het die trust gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!