Toenemende veediefstal draai in die parlement

Voor staande komitee oor grondwetlike en regsake
Vier landbou-unies het kragte saamgesnoer om 'n openbare verhoor by te woon en gesamentlik hul standpunte oor hierdie mosie voor te lê.
Francoise Steynberg
Veediefstal is ’n reuse-uitdaging in die landbousektor met groot verliese wat landswyd gely word.

Die Nasionale Vergadering het die Namibië Landbou-unie (NLU) versoek om ’n openbare verhoor by te woon om ’n voorlegging te doen en die komitee in te lig oor al die aspekte wat in ’n mosie geopper is.

Dit volg nadat ’n mosie by die parlement ingedien is “oor die vlak en impak van veediefstal in ons gemeenskappe en die impak van ons huidige wetgewende raamwerk om veediefstal te bekamp”.

Vier landbou-unies – die NLU, die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Boere-unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU) – het kragte saamgesnoer om ’n openbare verhoor by te woon en gesamentlik hul

standpunte oor hierdie mosie voor te lê wat op 13 Februarie na die parlementêre staande komitee oor grondwetlike en regsake verwys is.

“Die vier landbou-unies het ’n aanbieding van die uitdagings en moontlike oplossings aan die staande komitee verskaf en was aangenaam verras om te sien dat verteenwoordigers van die Regshervormingskommissie ook die vergadering bywoon,” lui ’n nuusbrief van die NLU.

Die Regshervormings- en Ontwikkelingskommissie (LRDC) is ’n Namibiese regeringskommissie wat in

1992 gestig is. Dit stel verslae op wat aanbevelings maak vir wetlike hervormings en word deur die ministerie van justisie ondersteun. Die kommissie het volgens die unies ’n opvolgvergadering voorgestel om die boere se ervarings en aanbevelings beter te verstaan. Die NLU moedig voortdurend sy boereverenigings en verskeie misdaadvoorkomingseenhede

(CPF’s) aan om verslag te doen oor verliese wat gely is.

“Dit was ’n perfekte voorbeeld van hoe hierdie inligting op ’n hoë vlak gebruik kan word om bewustheid van die voortdurende en selfs toenemende vlak van misdaad op landbougrond te verhoog.”

Die NLU beklemtoon boere oraloor die land ly daagliks groot verliese, wat produktiwiteit, groei en welstand beïnvloed, wat weer die landbou-uitset en -verdienste vir Namibië negatief beïnvloed.

“Ons gesamentlike siening is dat die strafregstelsel die boere van Namibië in die steek laat,” sê die unies.

“Alhoewel goeie samewerking tussen die plaaslike CPF’s en polisie (ondersoekbeampte van ’n misdaadtoneel) bestaan, lyk die hofverrigtinge ver van optimaal. Die voortdurende uitstel van sake, verlore dossiere, onvoldoende voorbereiding deur aanklaers, of die nie-bywoning van landdroste is ’n daaglikse realiteit met die gevolg dat boere nie eens meer alle veediefstalsake aanmeld nie.”

Volgens die unies lei dit tot groot frustrasies onder boere en vereis dringende aandag deur die justisieministerie.

Die unies stel voor dat veediefstal ook deur dieselfde spesialishowe wat wild- en omgewingsmisdade verhoor, hanteer moet word om ’n greep op hierdie ernstige kwessie te kry.

“Ons bedank die individue en die misdaadvoorkomingsforums vir die indien van hul misdaadstatistieke en insette vir oplossings, asook hul deurlopende pogings om misdaad in ons land te bekamp.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer