Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

’n Boodskap wat ek moes gestuur het

Iréne-Mari van der Walt
Ek het onlangs nog aan jou gedink toe ek Black Vulcanite op die radio gehoor het.

Ek het my foon uitgehaal en gesoek vir “Alain” – sonder ’n van, want ons het mekaar geken nog voor dit vir my nodig was om mense se vanne saam met hul name te stoor. Daar was in elk geval net een Alain, so waarvoor sou jou van nodig wees?

“Just heard BV on the radio and thought of you. Hope you’re well! We should catch up some time bro.”

My vinger het gehuiwer oor die pyltjie wat die boodskap sou stuur en ek het my foon eers weggesit – ek sou dit later vir jou stuur wanneer ek die moed bymekaargeskraap het.

Ek het daardie dag die moed weggeredeneer. Ek het gedink jy sou dit vreemd vind as ek jou meer as ’n jaar ná ons laaste gesprek net uit die bloute sou kontak – en nog vir so ’n simpel rede.

As ek dit maar net gedoen het.

Dalk sou ons planne gemaak het om iewers ’n bier te gaan drink en dalk sou ek dit nog een laaste keer kon regkry om jou gesig met die fyn neus in ’n lag te laat uitbars.

Ek sou nog ’n laaste keer kon sien hoe jy jou hoed regtrek en ons sou begin met die gewone, droë geselsies wat ons altyd in ons boodskappe gemaak het.

Daarna sou dit vir ’n oomblik stil wees en ek sou kyk hoe gedagtes in jou kop vorm, soos ek altyd in daardie kort tydjie gedoen het toe ons mekaar geken het.

Ons sou lag en gesels oor die ou dae of dalk sou ons politiek praat of oor maatskaplike kwessies redeneer en in dit alles sou jy my elke keer beïndruk met ’n siening wat spruit uit jou geweldige empatie.

Ek sou weer die gevoel kry wat ek jare gelede gekry het. Ek sou weer voel as ek jou nie fisies op die aarde vashou nie, sou jy wegvlieg met jou gedagtes. Dit sou stil wees, maar gemaklik – net soos dit altyd was.

Ek het nie besef jou afwesigheid in hierdie wêreld sou my so diep raak nie – wat is die paar maande wat ek jou as ’n gebroke 18-jarige geken het? Daar is hoërskoolverhoudings wat langer hou as die tyd wat ek jou geken het.

Selfs in daardie paar maande het jy my egter onherroeplik verander. Jy het vir die meisie van die baie tradisionele Afrikaanse familie gewys dat rappers met tatoeëermerke nie is wat my ouers my gewaarsku het hulle sou wees nie.

Die enigste waarskuwing teen jou sou wees dat jy op jou stil manier vinnig en sonder teenstand in iemand se hart kon klim – en dat jy een Sondag wreed uit daardie plek geruk sou word.

Jy het vir die sensitiewe 18-jarige dromer wat ek was ruimte, stilte en kalmte gegee wat soos ’n wit vel papier was waarop ek hard en kleurvol na myself soek.

My wêreld en my bestaan was in daardie stadium nog te klein vir jou enorme siel, maar jy het my die eerste keer laat besef dat ek soveel groter kon wees as net die drome wat ek in daardie stadium saam met my gedra het.

Jy was my bewys daar is dromers net soos ek in hierdie wêreld en dat ek nie die enigste een is wat die gewig daarvan dra nie.

Ek wens ek het dit alles vir jou gesê. Ek wens ek kon dit jare gelede al besef het. Ali, ek wens ek het meer uitgereik en ek wens ons het meer gepraat oor alles en niks.

Ali, we will write that you were righteous.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer