’n Lewe in ’n onafhanklike land
By die verskeie dienste vir die ontslape stigterspresident, dr. Sam Nujoma, kon ek nie anders as om te dink oor wat dit beteken om ’n Namibiër te wees nie.
Wanneer jy die man wat die gesig van Namibië se onafhanklikwording is ter ruste lê, wonder jy hoe jou lewe sou uitgedraai het as jy nooit daardie onafhanklikheid geken het nie.
Ek is wat die ouer generasie gereeld ’n “born-free” noem – iemand wat in hul leeftyd nie ’n dag van apartheid geken het nie. Die stof van die stryd om onafhanklikwording het reeds gaan lê toe ek ’n dekade later gebore is.
Ek het nooit ’n dag sonder maatjies van kleur op skool geken nie en ek het nooit daaraan gedink dat ek en daardie einste maatjies op grond van ras geskei moet word nie. Hulle was maatjies nes al die ander kinders op die skool se speelgrond.
As tiener was ek een van twee wit kinders in ’n koor van 150 lede, maar dit het nie vir ’n oomblik vreemd gevoel nie – al die lede was maatjies.
Enigiemand wat al in ’n koor was, sal vir jou sê jy leer baie meer as net om te sing. Jy leer van selfdissipline en hoe om beter te kommunikeer tot spanwerk en brokkies uit die musiekgeskiedenis om net ’n paar te noem.
Om elke naweek met sowat 100 stemme saam te werk aan ’n gemeenskaplike doelwit, glo ek, het my karakter gevorm en die grondslag gelê vir wie ek vandag is. Waar sou ek sonder dit wees? Sou daar in ’n Namibië onder apartheid ’n koor wees waarby ek kon aansluit? Dit sou beslis nie dieselfde gewees het nie, en dus sou ek nie nou dieselfde wees nie.
Elkeen van ons wil graag glo dat ons sou opstaan vir dit wat reg is, maar in ’n land onder die vorige regime was apartheid reg en dit is so oorgedra van een generasie na die volgende.
Sou ons opstaan teen dit wat nog altyd vir ons voorgestel is as die regte ding? Is ons so oortuig van ons eie denke dat ons teen alles sou ingaan wat ons van kleintyd af van die wêreld weet en opstaan vir dit wat die wêreld vir ons sê is onnatuurlik?
Terwyl Tatekulu se kis met die paadjie afkom, kan ek nie anders as om te dink aan die etikette wat aan sy naam gekleef het voordat hy die titel as Vader van die Nasie gekry het nie. Hy was ’n rebel, ’n vyand van die staat, ’n vegter, ’n terroris en ’n aanhitser – maar nou, dekades later, begrawe ons hom as ’n held.
En wat sou ek wees sonder daardie held? Wat sou ek wees sonder die invloed van die maatjies uit verskeie kulturele agtergronde op die skool se speelgrond en die 150 sangers wat my karakter gevorm het?
Wie sou ek wees in ’n Namibië onder apartheid? Die geskiedenisboeke sou vir my voorstel dat ek juis beter daaraan sou wees vanweë my ligte vel en Afrikaanse afkoms, maar ek glo nie die boksie waarin die ou regime my sou plaas, sou kleurvol genoeg vir my gewees het nie.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie