’n Lewe van geure
Die son loer soetjies deur die venster, geure dans deur die huis.
Met liefde aan haar vingerpunte, staan ’n vrou in die kombuis. Die reuk van geselligheid. Die smaak van samesyn.
’n Vrou aan die skep, ’n kuns reeds goed verfyn. Geheime gefluister van vrou tot vrou,
generasie na generasie en dit proe soos onthou.
Daar is liefde in elke bestanddeel van roosmaryn tot koljander. Daar is omgee in elke gereg. Alles in eer van ons hemelse Vader.
As ek my oë styf toeknyp, kan ek die aanhoudende gewemel van die uitputtende stadslewe ontsnap. My geheue vat my terug na dogtertjie-boksterte en maer beentjies wat van ’n wit kombuisstoel swaai. In ’n sonbedekte kombuis in haar huisie op Hentiesbaai, kyk ek hoe my tannie Mika beskuit knie – anysbeskuit, my gunsteling. Met ’n bitter koffietjie, is dit ’n soet herinnering aan ’n sorgelose lewe.
Die reuk van rou maalvleis stuur my reguit na ’n koue vleiskamer op my oom se plaas. Met die stem van ou Tolla in die agtergrond. Elkeen is by sy stasie – een voer die maler, een hou die derm, ’n ander draai die wors in ’n sirkel en die laaste een verpak in sakkies. Ek was klein, maar ek onthou. Intussen het my oom die plaas verkoop en moes ons hom nou die dag finaal groet. Maar die herinneringe bly.
My geliefde ma se kombuis is die lekkerste plek op aarde, tot vandag toe. Haar hoenderpastei, soetwortels, boudvleis of kerriehoender laat my weer soos ’n kind in die huis voel. Ek vergeet van die wêreld daar buite en vir ’n uur of twee voel ek weer soos ’n tiener wat geëerd genoeg was om elke aand saam met my ouers te kon eet. Destyds het ek nie geweet hoe baie ek daarna sou verlang nie.
Sosaties en toffie-appels by ’n kerkbasaar. Proeworsies langs die braaivleisvuur. Koekstruif (trifle) op Kersdag. “Coke floats” op die stoep. Pannekoek op ’n reëndag. Waatlemoen op die grasperk. Skaaptjoppies. Malvapoeding. Mieliepap. Melktert. Afval.
In geure en reuke kan ’n wêreld se herinneringe vasgevang word. Herinneringe vol liefde en genot wat jou terugneem na ’n gelukkiger tyd.
Ons vergeet dikwels van ’n oomblik totdat ’n reuk of smaak ons wegvoer na ’n herinner wat diep in ons geheue gebêre is.
’n Reis terug in tyd.
In hierdie disse en voorbereidings is daar ook jare se erfenis, kultuur en tradisie vasgevang. Om Afrikaans te wees, proe eenvoudig lekker!
Min mense besef hoe kos eintlik deel is van ons identiteit, ons herinneringe en ons menswees.
In my kop hoor ek duidelik my pa se stem: “Seën die hande wat die kos voorberei het en maak ons opreg dankbaar daarvoor.”
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie