Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

’n Rooi verkeerslig beteken jy moet STOP!

Soms wil jy net op ’n plaas of op ’n eiland bly; waar jy net donkiekar ry, sonder die gebruik van petrol of diesel.

Deksels die strate is deesdae besig en die stad word besoedel met al die koolstofmonoksied van die hedendaagse monsters wat motors genoem word – moenie dat dit nog maandeinde is nie.

Dan word ek deurmekaar van al die baie karre, dit voel vir my almal het gepay en die hele land se karre is meteens op straat. Dit lyk of selfs karre wat gister nog op bakstene gestaan het ook lewe gekry en vertrek het na die middestad. Moet ook nie die taxi’s vergeet nie, die paaie is stampvol van hulle.

“Dinge het verander,” sê my metgesel terwyl sy die motorsleutels by my vra en voeg by dat ons vroue beter as mans bestuur.

“Dis deesdae net hulle wat langs die pad gaan staan; veral as dit kom by ongelukke of ’n papwiel.”

Sy het die oom se lippe behoorlik laat hang toe sy sê ons vroue bestuur beter as mans.

Ek weet nie watter slim oompie of tannie gesê het ’n mens leer uit sy foute en dat ervaring die beste leermeesters is nie.

Soos ek die lewe kyk, is ons vrouens die beste “drivers”. Selfs die Bybelse Noag sou vandag met sy Ark-rybewys (as daar ene was) loshande in Namibië rondgedwaal het.

Dit verklaar ook soms hoekom soveel jong bestuurders in motorongelukke betrokke is omdat rybewyse makliker as in die verlede bekom kan word. En die dat jy nou selfs in jou eie taal jou toets kan skryf, maak dit nóg makliker.

Ek self het ook net ses keer gedruip tot ek nou eers my leerlinglisensie gekry het, maar glo my ek kan beter bestuur as die mense wat al hul rybewys het. As ek langs die bestuurder sit, voel dit vir my ek ry self die kar en trap die briek self. Hoekom vra jy? Oor die mense wat soos die duiwel vanself jaag en wat uit hul beurt uit by die vierrigtingstop ry, dan is daar nog padvarke wat probeer om ’n mens van die pad af te dwing sodat hy voor in die ry kan kom. Moenie dat die verkeerslig rooi is en ’n ander kar kom ry verby jou nie, dit voel vir my ek is klaar dood.

Ek wil eerder nie verder uitwei oor die verwoesting op ons paaie wanneer die dronkbestuurders begin rondjaag nie. Té veel goeie mense, ou bekendes en families se lewens is al deur onverskillige dronkbestuurders verwoes. Hulle behoort oor Kersfees en Nuwejaar toegesluit te word nog voor hulle mense kan doodmaak.

Wat ek eintlik met hierdie skrywe wil probeer tuisbring is dat verkeersregulasies hersien en aangepas behoort te word. Te veel van die sodanige motorbestuurders se bestuursvernuf laat hulle ver in die steek. Dit lyk regtig waar asof hulle hul rybewyse gekoop het. Boonop stel hulle baie onskuldige passasiers se lewens in gevaar.

Intussen wens ek dat ons almal voortaan daarna sal streef om veilige bestuurders te wees. En asseblief, STOP BY ’N ROOI VERKEERSLIG!

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!