No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 16 AUGUSTUS 2004

– Die verrassingselement was Saterdag aan die kant van die besoekende minister uit Duitsland toe sy amptelik verskoning gevra het vir die eeu-oue volksmoord op die Herero.

– Swart roubande, strikkies en serpe is sedert Vrydagoggend op Swakopmund letsels van die voorste vakansieoord se seer nadat ’n briljante goudsmid vroeg die oggend op die sentrale strand vermoor is.

– Swapo se presidensiële opvolgkandidaat en die minister van grond, hervestiging en rehabilitasie, mnr. Hifikepunye Pohamba, het die naweek ’n bedekte waarskuwing gerig aan kommersiële boere wat steeds nie grond vir die regering wil aanbied nie.



DINSDAG 17 AUGUSTUS 2004

– Ondanks vanjaar se rekord mielie-oes wat op tussen 52 000 en 55 000 ton beraam word, is dit steeds die plaaslike verbruiker van mieliemeel en ander mielieprodukte wat die prys vir voedselsekuriteit in Namibië moet betaal.

– Die bekende Sweedse ekonoom, dr. Henning Melber, het gister die regering se grondhervormingsbeleid - of gebrek daaraan - met ’n storm vuishoue toegetakel.

– Twee vroue staan in die Kavango tereg op klagte van moord nadat hulle ’n vermeende verkragter in die omgewing van Dudu aangeval het.



WOENSDAG 18 AUGUSTUS 2004

– Namibië was die eindbestemming van ’n gedeelte van die grootste Mandrax-vonds waarop daar in die Suid-Afrikaanse dwelmgeskiedenis beslag gelê is.

– Die regering het die eerste keer sedert onafhanklikwording op die voorgrond getree as medegespreksgenoot oor skadevergoeding vir die OvaHerero-gemeenskap as slagoffers van die 1904-’08 uitwissingsoorlog.

– Die soeke na verdere gas- en oliebronne op Namibiese grondgebied is onlangs ’n stap verder gevoer met ’n verkenningslisensie wat aan ’n Amerikaanse oliemaatskappy toegestaan is.



DONDERDAG 19 AUGUSTUS 2004

– Die heersende misdaadvlaag in Namibië bedreig die land se veiligheid, beleggings, produktiwiteit en ontwikkeling en vereis ’n verenigde aanslag van die regering, private sektor en die gemeenskap.

– Die lys van kommersiële plase wat deur die regering geoormerk is vir onteiening groei steeds en die jongste eienaar wat skriftelike kennisgewing van ’n beoogde vervreemding ontvang het, is ’n 90-jarige weduwee van Karibib.

– Namibië se pogings om deur middel van die Nasionale Ontwikkelingsplan voorspoed en welvaart aan al die inwoners van die land te verseker, word deur MIV/vigs gekelder.



VRYDAG 20 AUGUSTUS 2004

– Die nominasiekonferensie vir Swapo se parlementslede is die jongste slagoffer van die slepende onmin in binnekringe wat besig is om die partyleierskap uitmekaar te ruk.

– ’n Span Duitse deskundiges kom aanstaande week in Namibië aan om ’n ontleding te maak van projekvoorstelle oor grondhervorming wat van die ministerie van grondsake, hervestiging en rehabilitasie ontvang is.

– Die man wat na bewering vir Harry Simon, Namibië se bokskampioen, in ’n kroeggeveg platgeslaan het, het gister in Windhoek in die hof op klagte van afpersing en diefstal verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer