No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 31 JANUARIE 2005

– Die Regering se omstrede huurooreenkoms van bykans N$255 miljoen vir ’n nuwe vloot van 858 voertuie het begin boemerang met die eerste motorongelukke wat sy tol eis omdat dié voertuie nie deur versekering gedek word nie.

– ’n Bedrogspul is by die Ministerie van Werke, Vervoer en Kommunikasie oopgevlek wat verband hou met die toekenning van staatshuise.



DINSDAG 1 FEBRUARIE 2005

– Die Regsdienskommissie van Namibië het gisteraand ’n noodvergadering belê ná die inhegtenisname van Regter Pio Teek op aanklagte van beweerde verkragting, poging tot verkragting, ontvoering en die verskaffing van alkohol aan minderjariges.

– Arbeidsonrus in die visbedryf op Walvisbaai gaan vanaf môre op die hoogste regeringsvlak probeer ontlont word met ’n driedaagse besoek van die Adjunkminister van Arbeid en die arbeidskommissaris.

– Die voortslepende onmin tussen die ouergemeenskap en die skoolhoof van die Junior Sekondêre Skool Daweb op Maltahöhe het breekpunt bereik.



WOENSDAG 2 FEBRUARIE 2005

– Inwoners van Khorixas het Maandag die onmiddellike skorsing van die waarnemende stadsklerk geëis nadat hy ses elektrisiëns in diens van die dorpsraad geskors het.

– Die lekker reënbuie wat sedert Maandag oor Windhoek uitgesak het, is net ’n voorsmakie van dit wat vir die res van die week voorspel word.

– Naakte rassisme en verskuilde agendas sit agter die jongste debakel rondom plaaswerkers waarin vakbonde nou dreig om “die wet in eie hande te neem”.



DONDERDAG 3 FEBRUARIE 2005

– Die Katolieke Kerk in Namibië gaan hom nou tot die Hoërhof wend in ’n poging om die onhoudbare situasie rondom een van sy priesters te probeer ontlont.

– Die beleërde Regter Pio Teek het 12 jaar gelede gepleit vir ’n waghondorganisasie wat vasberade oor enige vermoedelike misbruik en mishandeling van kinders moet waak.

– Wydverspreide reënbuie wat sedert Maandag oor die grootste dele van die land voorkom, het gister voortgeduur.



VRYDAG 4 FEBRUARIE 2005

– Swaar reën en windstorms het die afgelope dae skade op verskeie dorpe in die suide van die land aangerig.

– Die Swakopmundse gemeenskap is tot in sy fondamente geskud en ’n massa-optog deur kinders en ouers sal vanoggend die kusdorp tot stilstand ruk nadat die erg geskende lyk van ’n sesjarige verkragte meisietjie Dinsdagmiddag om 15:00 by die munisipale rioolwerke op die dorp gevind is.

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer