No Image Caption

20 jaar gelede

Mandy Rittmann
MAANDAG 11 APRIL 2005

– Swart ekonomiese bemagtiging (BEE), waardetoevoeging en optimale eksplorasie is van die streng vereistes waaraan beleggers voortaan moet voldoen om hul aandeel in Namibië se minerale rykdom te verseker.

– ’n Hoëvlakondersoek na die beweerde korrupsie en nepotisme rondom sake in die goewerneurswoning op Mariental, sal na verwagting vandeesweek gedoen word.

– Beweerde diskriminasie met die implementering van die nuwe salarisstruktuur vir onderwysers sal in die komende week die spil van verset wees wanneer leerkragte op Keetmanshoop en Mariental die voorbeeld van hul kollegas in die hoofstad gaan volg.



DINSDAG 12 APRIL 2005

– Huishoudings sal hul dollars moet omdraai om voorsiening te maak vir petrol wat einde April met sowat 40 sent per liter duurder word.

– Namibië se eerste loonbedingingsverslag bevind dat die meeste werkers sedert 2000 met inagneming van inflasie jaarliks ’n skamele 0,7% meer verdien het.

– Die Pohamba-sweep klap steeds met ’n waarskuwing dat ministers individueel aanspreeklik gehou sal word ten einde doeltreffende dienslewering in die staatsdiens te verseker.



WOENSDAG 13 APRIL 2005

– Die aandrywingsmotor van ’n torpedo uit vorige militêre eras het Lüderitz sedert Maandagaand op hol en het lede van die polisie uit Windhoek genoop om inderhaas na dié hawedorp te vertrek om die “bom” wat in ’n vissersnet beland het, onskadelik te stel.

– Die huidige situasie in die visbedryf is niks anders as ekonomiese sabotasie nie en die probleme is die oorsaak van wanbestuur deur hoofsaaklik buitelanders wat landswette oortree en Namibiese werkers uitbuit.



DONDERDAG 14 APRIL 2005

– ’n Totale toelaatbare kwota vir drie vissoorte is gister deur die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, dr. Abraham Iyambo, aangekondig toe hy ’n vergadering van rolspelers in die bedryf op Walvisbaai toegespreek het.

– Jarelange eise vir ’n einde aan onverantwoordelike seksuele optrede deur onderwysers het gister soos ’n sweer gebars met die verskyning van die skoolhoof van Concordia College in Windhoek op ’n klag van onsedelike aanranding.



VRYDAG 15 APRIL 2005

– Die wet op die Teenkorrupsiekommissie tree vandag in werking en die verwagting is dat die direkteur, wat as die hoof uitvoerende beampte van die kommissie sal optree, aanstaande maand met die hervatting van die werksaamhede van die Parlement, aangestel gaan word.

– Versigtige optimisme het gister na die marsbankerbedryf van Namibië se beleërde visbedryf teruggekeer ná tegemoetkomings deur die Regering.

– Die Polisie op Rundu het Dinsdag ’n 45-jarige man aangekeer nadat hy na bewering Maandag ’n vrou en haar babaseuntjie by die Musanga-nedersetting in die Kavango met ’n byl vermoor het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer