Afwagting
Gerhardus van Grootfontein – Afwagting is ’n interessante ervaring. Ek onthou as laerskoolkind hoe die afwagting op ’n nuwe skooljaar my soms uit die slaap gehou het.
Ek het nie noodwendig baie van skool gehou nie, maar ek was opgewonde om my vriende te sien ná ’n lang vakansie, om te sien wie my nuwe klasmaats is en selfs watter onderwysers gaan watter vakke vir my gee. Afwagting op nare ervarings het ek ook al beleef: die afwagting op afskeid, verlies, skulderkening en vernedering.
Ek wonder dikwels hoe dit vir mense moet voel die aand voor hulle teregstelling. Ek het ’n artikel gelees oor onderhoude met gevangenes in Texas wat op hul doodsvonnis wag. Die meeste vind dat die angs wat hulle ervaar nie in die slag van die dood self lê nie, maar in die afwagting daarop. Van die ouens sê hulle sal eerder ’n pil nou drink as om nog ’n paar weke te wag. Die afwagting is die vrees, nie die oomblik nie.
Afwagting bemagtig ’n enkele oomblik in die toekoms om baie van jou tyd in die hede te monopoliseer. Dink bietjie aan ’n kind in n’ motor tussen Usakos en Swakopmund: in plaas van ’n boekie te lees, gesels, slaap of te dagdroom word al die kleintjie se tyd gefokus om die see te sien. Ek sê nie kinders moenie opgewonde wees nie, of dat daar iets daarmee verkeerd is nie. Ek bedink net die mag van afwagting en opgewondenheid. Baie keer word kosbare tyd oorskadu daardeur.
Vrees (negatief) en hoop (positief) is twee kante van dieselfde muntstuk: beide is afwagting op ’n toekomende gebeurtenis waaroor ’n mens geen of minimale beheer het. Ons lewe dus in trajekte en nie in oomblikke nie. Gevolglik reageer ons op ’n onbepaalde uitkoms van ’n trajek eerder as die nou. Sodoende, verloor ons die mag en die waarde van die nou.
Gebed spruit soms uit hoop of vrees uit, of nie? Interessant, as ons kyk na die “Onse Vader”: die daaglikse brood word gevra vir vandag, nie môre of volgende week nie. Dit is tog hoe Jesus self sy volgelinge leer bid het. Die wil van die Bybelse God moet geskied, nie die wil of begeerte van die individu nie. So wat is die doel van ’n gebed gerig op persoonlike en toekomende uitkomste? Is dit nie afwagting waarop die individu geen beheer het nie? Ek vra net (knipoog).
Persoonlik hou ek van die Taoïstiese benadering en bewoording. In Taoïsme is daar geen verlede nie en geen toekoms nie. Dit is net die oomblik. Taoïste voel dat jou denke gespits moet wees op die nou. Dit kan wees wanneer jy wortels skil in jou kombuis, ’n koffie saam met ’n geliefde drink voor hulle vertrek, of na musiek luister by ’n braai. Die nou is die enigste oomblik waaroor jy kan beheer uitoefen en dus moet jy bedag wees daarop. Môre het sy eie nou, maar jou toegang daartoe is nie gewaarborg nie. Ons moet vertrou op die rivier van die lewe en die omgewing waardeer.
Die rivier het witwaters en watervalle, maar ook kristalhelder poele en stille strome onder wilgerbome. Daar is absoluut niks wat ons aan die weg van die rivier kan doen nie. So, hoekom teen die stroom roei of angstig wees oor dit wat om die draai wag?
Hierdie lewensfilosofie is makliker gesê as gedaan. In enige tyd van afwagting, is dit menslik om emosies vir ’n uitstappie na die malemeule te neem. Vrees is deel van ons historiese DNS – dit is hoekom ons versekering uitneem en ander mense ryk maak. So, al is dit nie altyd lewensvatbaar om die nou bo alles te ag nie, kan mens die nou net soms in gedagte hou.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie