Ag, was ek maar ’n man
René Hugo - As ek eendag die ondermaanse verlaat, wil ek asseblief weer terugkom aarde toe as ’n man. Want ’n man is ’n wonderlike ding...
Die wonderlikste van alle wonderlikhede van ’n man is dat hy broeksakke het. Mans hoef nie te sukkel met ’n handsak so groot soos ’n klein koffertjie waarin alles – van die huissleutels, lekkergoed vir die pad, nat lappies om hande waterloos skoon te kry, tot manlief se sooibrandpille – gehuisves moet word nie.
’n Man hoef slegs verantwoordelikheid te aanvaar vir dít wat in sy broeksakke pas – sy beursie, motorsleutels, leesbril en ’n sakdoek. Alle ander verantwoordelikhede is die vrou met die handsak s’n. So word dit dan “ons handsak”.
’n Man kan nie, wil nie en sal nie soek nie. Wanneer manlief iets wil hê, is sy natuurlikste eerste stap in die soekproses: “Vrou, waar is ...?”
Die rede hiervoor is logies. Mans glo, die oomblik wanneer hy na iets begin soek, sal die objek (soos byvoorbeeld sy motorsleutels) dadelik van vorm verander. ’n Vorm wat só vreemd is dat hy dit nie kan kry nie, selfs al val hy daaroor.
Seker een van die belangrikste redes waarom ek graag ’n man wil wees, is omdat mans altyd welkom is in daardie super-manlike emporiums: hardeware- en motoronderdele-winkels.
Jare se ervaring het my geleer dat hierdie heilige plekke nie vroue-vriendelik is nie. Ek sal miskien nog probeer om daarheen te gaan as ek duidelike en geskrewe spesifikasies van manlief het oor die onderdeel wat ek moet koop. Iets soos “part no. 253 van die radiator van ’n 1950 tweedeur beige Opel” is nodig. Selfs dan bly dit ’n nagmerrie. Gewapen met my voorskrif sal ek dapper my versoek rig. Die manlike verkoper sal hierop reageer deur hartlik te lag. Dan sal hy neerhalend beduie dat hulle nie so iets het nie, dit nooit sou aanhou nie en dat die onderdeel en nommer in elk geval nie op die rekenaar is nie. Gewoonlik met ’n “kyk self” draai hy dan die rekenaarskerm in my rigting (asof ek hom van leuens gaan beskuldig).
Wanneer manlief ná my mislukte poging met ’n meerderwaardige glimlag in dieselfde winkel instap, kom hy ook met ’n glimlag én die nodige onderdeel uit, met die woorde: “Jy het natuurlik weer verkeerd gevra.”
Mans het diepliggende selfbeelde wat hulle nooit in die steek laat nie. Dit is gesetel in dinge soos hulle motors, hul jaggewere, hul Gedore-moersleutels – veilig gebêre in die pasgemaakte Gedore-kassie – en veral in hulle besondere manlike bleskoppe en/of baarde. Al hierdie heerlikhede gee vir mans vaste, ryk selfbeelde.
Die vrou se selfbeeld, daarenteen, spruit hoofsaaklik uit een bron: haar hare. En, omdat vroue se hare so wisselvallig soos Swakopmund se weervoorspelling is, is die arme vrou se selfbeeld ook wisselvallig, vaag en dikwels windverwaaid. Ek het dit onlangs pynlik beleef. Na jare se weerstand teen grys hare (ons is ’n vroeg-grysword familie) het ek besluit om ’n einde te maak aan die “dye/kleur/tint-geveg”. Nou is ek amptelik grys. En ek ken myself nie! My spieëlbeeld is totaal vreemd, my selfvertroue is aan die kwyn en my lewenslus is weg. Ek voel nes my kleinkind wat, toe hy vir die eerste keer met die grys ouma gekonfronteer is, uitgeroep het: “Ouma wat het met jou hare gebeur?!”
Ai, my kind, niks nie – net ouderdom en ’n swak selfbeeld...
Wanneer ek regtig moedeloos raak oor al die wonderlike manlike dinge, onthou ek die woorde van daardie spesiale vrou, Maggie Thatcher: “The cocks may crow, but it's the hen that lays the egg.”
Nogtans, as ek weer ’n kans kry, sal ek eerder een van die kraaiers wil wees...
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie