No Image Caption

Agt naamlose vroue in die Bybel

NOAG SE VROU: In die boek Genesis word sy vyf keer genoem, maar slegs in die konteks van een van ’n groep. Sy moes nogal talentvol en doeltreffend gewees het om ontwortel te word en ’n huishouding in ’n goferhout-ark propvol voëls, slange, insekte en volgroeide diere van elke spesie te onderhou. Dié vrou, wat vir 12 maande alles in die ark in orde gehou het terwyl die wêreld se menslike bevolking tot enkelinge uitgedun is, is net aan ons bekend as “Noag se vrou”. (Gen. 6:18; 7:7 en 13; 8:16 en 18).

FARAO SE DOGTER: Haar pa, waarskynlik Ramses II, het besluit alle seuntjies wat vir Hebreërs gebore is, moet dood omdat die Hebreeuse bevolking in Egipte te vinnig gegroei het. Eendag het die farao se dogter in die Nyl gebad, toe sy ’n mandjie met ’n drie maande oue babaseuntjie gewaar. Sy het besef hy is Hebreeus en het besluit om hom groot te maak, eerder as dat hy vermoor moet word. Sy het die baba Moses genoem en hy het grootgeword as die grootste leier en leermeester in die geskiedenis van die Jode.

Die vrou wat sy lewe gered, hom grootgemaak en opgevoed het, was in verskeie geskiedenisboeke bekend as Thermuthis, Myrrina of Mercis. Die Bybel se skrywers verwys bloot na haar as “die farao se dogter”. (Eks. 2:5–10)

TEBES SE PATRIOT: Abimelek was ’n tiran wat vir drie jaar oor Sigem regeer het. Nadat hy die mag oorgeneem het deur 69 van sy 70 broers te slag, het hy ewe bloeddorstig die hele bevolking van die opstandige stad Sigem uitgewis. Hy was op pad om die naburige dorp Tebes aan die brand te steek, toe “’n sekere vrou” op die dak van ’n toring verskyn, ’n meulsteen op sy kop laat val en sy skedel vergruis het. Só verneder deur die skande om deur ’n vrou vermoor te word, het Abimelek ’n volgeling beveel om hom met ’n swaard te deurboor. Met Abimelek dood, is die bedreiging afgeweer en Tebes is gered. (Rigters 9:50–55)

DIE WYSE VROU VAN ABEL: Koning Dawid het sy opperbevelhebber, Joab, gestuur om die rebelleier Seba, seun van Bikri, uit te wis, wat toe in die ommuurde stad Abel gaan wegkruip het. Joab en sy soldate het die stad begin vernietig, maar het opgehou toe ’n wyse vrou die saak met hulle begin bespreek het. Joab sê toe as die inwoners die rebel aan hom oorgee, sou hy en sy soldate hulle met rus laat. Die wyse vrou het haar mense maklik oortuig dis ’n goeie plan. Seba is vinnig onthoof, sy kop is oor die muur na Joab gegooi, en die stad Abel is gered. (II Sam. 20:15–22)

BARSILLAI SE DOGTER: Toe dié Gileaditiese vrou getrou het, het sy haar eie naam behou eerder as om haar man s’n te neem. Trouens, haar man, ’n priester, het haar familienaam geneem. Ondanks hierdie vroeë vertoon van feminisme, of dalk as gevolg daarvan, vermeld die Bybelskrywers nie haar naam nie, maar verwys bloot na haar as “een van Barsillai se dogters”. (Neh. 7:63)

DIE SULAMITIESE LIEFLING: Geleerdes meen Hooglied is die verhaal van ’n jong Sulamitiese meisie wat koning Salomo se aandag getrek het. Hy het haar gedwing om na Jerusalem te kom en haar probeer oortuig om met hom te trou, maar sy het daarop aangedring om getrou te bly aan haar herder-minnaar. Uiteindelik het Salomo moed opgegee en haar toegelaat om huis toe te keer, terwyl hy druipstert moes voortgaan met die 700 vroue met wie hy reeds getrou was.

HERODIAS SE DOGTER: Koning Herodes was so beïndruk deur die dansery van Herodias se naamlose dogter dat hy haar enige geskenk aangebied het, insluitend die helfte van sy koninkryk. Nadat sy haar ma geraadpleeg het, wat kwaad was vir Johannes die Doper omdat sy haar in die openbaar as ’n bloedskandelike egbreker veroordeel het, het sy die hoof van Johannes die Doper op ’n skottel gevra. Sy het dit gekry en die aaklige prys dadelik aan haar ma oorgedra. (Matt. 14:6; Mark. 6:22)

DIE OWERSPELIGE VROU: Hierdie vrou, op heterdaad betrap, is voor Jesus gebring deur die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat uitgewys het die wet vereis dat egbreuk deur steniging gestraf word. Jesus het hulle eers geïgnoreer en toe gesê: “Wie onder julle sonder sonde is, laat hom die eerste klip gooi.” Een vir een het haar beskuldigers weggeloop, en sy is nie gestraf nie. (Johannes 8:3-11)

• Ontleen aan The Book of Lists (2004-uitgawe).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!