No Image Caption

Agter elke land

Dani Booysen
Sy is gebore net anderkant halfpad deur die Tweede Wêreldoorlog.

Van julle dalk vroeër.

Of julle ken dié oorlog, die ene ná 1918, wat nooit moes gebeur het nie, bloot uit boeke en TV-dokkies.

Sy was 10 jaar oud toe Ant Liesbet die Koningin van Ingeland geword het.

Sy het geleef deur die Koue Oorlog, apartheid, armoede, republiekwording (van twee lande), dok Barnard se hartoorplanting, sluipmoorde wat die mensdom laat bewe het, die maanlanding, Margaret Thatcher, Glasnost en Perestroika, mure wat val, die Internet en Google, die bevryding van Nelson Mandela, Diana en Charles se egskeiding (en troue), 9/11, Harry Potter, Y2K, Covid-19 (en al die epidemies en pandemies in haar leeftyd), Bitcoin, die sending na Mars, ruimtetuie wat ontplof ...

Dis so baie. Mens sukkel om dit chronologies te rangskik. In boksies te pak.

Die lewe is geen reguit lyn nie ...

Cliff Richard, Elvis, die Beatles.

ABBA. Koos du Plessis. Bobby Angel. Theuns Jordaan.

Die rinkhals van ruk-n-rol, disco, pop, rap, heavy metal en deuskant verby.

Star Trek, Monty Python, Gunsmoke, Columbo, Agter elke man, Egoli, Binnelanders.

Van die Mustang en Corvette tot by elektriese tjorre.

Skandale. Baie.

Natuurrampe.

Krisisse.

En oorloë.

Oorloë. Baie oorloë. Ook in skole.

Suid-Afrika se eerste kleurkassie in 1976, wat ons nooit hier te lande mog sien nie, is deur tegnologiese vordering amper al so getoets en ervare soos sy. (SWA was selfs verder agter weens Groot-boetie-suid se vrees en paranoia.)

Kennedy, Nixon, almal tussen-in tot by Obama en Trump.

DNS. Sjoe.

Gayregte, #MeToo, #BlackLivesMatter.

Brexit.

En Elon Musk.

Vanaf Calitzdorp via PE tot in Windhoek het sy haar bgei afgeleer.

Sy ken swaarkry. Maar altyd ook die geluk en die glimlag in die lewe soek.

Makie saak wat in die wye wêreld gebeur nie.

Vir ons was sy altyd die liefste.

Vir ons het sy immer opgepas en beskerm.

Deur die duk en die din, die raap en die skraap, die soebat en die mooipraat, die huil en die hard besin.

Steeds.

En nooit gekla nie.

Nie by ons nie.

Boeke oorgetrek, skooltasse gepak. Tuiswerk moes ons self doen, maar sy het ons klein-klein met vrae gepepertoets. Net om seker te wees.

En ons biblioteek toe gevat. Aangemoedig om te lees. Te kyk. Te teken. Te probeer. Om ons eie oorwinnings te soek en ons eie foute te maak.

Maar sy kan ook hokaai roep.

Nevermaaind tieners grootmaak. Selfs toe ons kamma-kamma jong en ouer grootmense was, was haar raad daar. Al wou ons ons gemoed en onse ore doof hou.

Toe die swaar tye kom, moes sy voltyds gaan werk om ons almal groot te kry.

Die taalkundige sal sê daar is waarheid in elke stereotiepe en holrug-uitdrukking.

Agter elke man, agter elke gesin, elke familie, elke volk, elke nasie, elke land...

Is daar ‘n vrou.

Wat gehoop het.

Geglo het.

Lief gehad het.

Haar hande en gees in stil, maar slim en verbete toewyding vol eelte gewerk het.

Sien jy haar?

Ma – ons sien jou.

[Vir Daleen Nel, Booysen, Duddy, op haar 80ste jaar. En al die baie vroue soos sy. Sonder aansiens des plek, tyd, klas, ras, herkoms, geloof en alle ander inperkinge. Vir al die vroue en moeders wat dalk nooit genoem, of op skrif vasgelê word nie. Sonder grense. Taal en dankbaarheid skiet tekort.]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!