Al jou eiers in een mandjie
Ek het gewonder waaroor ek vandag sal skryf; dis daai tyd van die jaar en die inspirasie is maar min. Almal wag vir die Desember-vakansie en almal is redelik dankbaar daar is minder as 100 dae in hierdie jaar oor.
Ons almal is geleer om nooit al ons eiers in een mandjie te sit nie, veral nie wanneer dit kom by finansies nie.
My kroos het my herinner dat dié gesegde letterlik ook toegepas moet word.
Hierdie naweek was grotendeels in die kombuis bestee, met ’n kombuistee, want ons verwag niggie se pienkvoet binnekort. Hammelie verjaar ook en dan moet daar ten minste koek wees. Met die gebakkery en gekook is daar ’n oormaat van kositems in my huis. In plaas van die week se ses eiers, is daar 30.
Baie van die eiers bly oor en ek vind ’n gaatjie vir ’n paar in my oorvol yskas. Ek wonder wat ek met die oorblywende halfdosyn-plus-een gaan doen, maar in die yskas pas hulle nie. Vir eers moet hulle op die tafel bly. Die tafel wat reeds oorgetrek is met ’n nuwe tafeldoek en my fancy bordjies, reg vir Sondagmiddag se koek en tee.
My eerste fout was om te dink ek het ’n reg om ’n warm beker koffie te geniet voor ons hierdie dag gaan aanpak. My tweede was om te dink die televisiestorie gaan die seuns lank genoeg interesseer vir my om my koffie te kan klaar drink. En die derde fout was om nie te gaan kyk wat nommer twee in die kombuis aanvang nie.
Want almal weet, ’n stil huis beteken net een ding. Moeilikheid in die ergste graad.
Nou dis nie moeilik om te wonder wat volgende gebeur het nie. Peuters peuter en klouter op goeters insluitend tafels, want dit blyk hulle weet nie wat stoele doen nie.
Ek vind hom bo-op die tafel, bene gekruis, besig om ewe onskuldig die eiers oop te breek, want ‘ek wil ook koek bak’. So sien sewe eiers toe hul allies bo-oor my mooi, skoon oorgetrekte tafel en al my mooi bordjies het rou geroerde eier in. Hy het hulle ewe mooi met sy hande begin 'klits.
My moed val in my skoene. Dis sewe-uur op ’n Sondag, terwyl ek sou verkies het om nog in die bed te wees. Die vloere is gister gevee en gemop. Nou moet dit weer gedoen word, terwyl ’n stapel ander huistakies ook nog wag.
Ek is bly dit was net sewe en nie sewe plus 12 nie. In plaas daarvan om oor gebreekte eiers te huil, was daar regtig net een logiese ding om te doen.
Toe haal ek maar die pan uit, skep die eierdoppe uit die eiers uit en gooi alles in die pan. Ek rooster broodjies en maak spek gaar. Want gebreekte eiers kan minstens geëet word.
Saam met die ontbyt waag ek dit om nog ’n beker koffie te maak. Rustig en salig. En warm. Daar is nie nog eiers om te breek nie.
En toe word die melk van die toonbank afgestamp.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie