Jemima Beukes
Jemima Beukes

Alleen net met jou onthou

Jemima Beukes
Hier oorie krismistyd sit ek onder die afdak onder the plaas en tuur in die verte, oor die rand en toe onthou ek.

Ek onthou die oom met die smous, ek kan nie sy naam onthou nie. Maar hy het elke naweek of end van die maand by Karanas sy rondtes gedoen. As die smouskar daar oorie rant gewaar was, het almal na oom Tobies se huis gestap, soos mense deesdae vir die droogtehulp saamdrom. Ek onthou hoe ek veral koeldrankbottels in die spens bymekaargemaak het. Die kiertsregop outydse glas Coke-bottel, en die ronde Fanta-bottel met so ’n anderster kop met die kon ek ’n bruin kardoes met lekkers en ronde kleurvolle bubblegum kry. Dan was daar ook Kool-Aid, jare voor Drink-o-Pop se koms, wat ons gelek het en mekaar die tonge gewys het. Wanneer die smous weer vertrek het, het almal met hulle groceries in die arms of lapsak teruggestap, my oupa het nog onder die groot peulboom vertoef met Ouma Hotties om te rook en skinder, en die anties met hulle tros kinders sou, soos Oupa Koppie altyd opgemerk het, soos henne met kuikens terugloop huis toe.

My ma vertel my toe sy klein was, het ’n smous wat Jakkals Tron geheet het, negosie gekarwei tussen Kalkrand of Schlip en die kleiner plase. Maar party male het sy meel glo klanners gehad en da moes hulle dit eers sif met ’n kantgordyn. Die smous was gepak soos ’n groothandelaar en het allerhande goed gebring, veral gegeurde seep vir die biduursusters en pruim en snuif vir die oupas en oumas. Wanneer die smous vort was, moes ons maar weer by Oupa Japan gaan koop. In die hoek van sy winkel het iemand altyd die lampolie uitgepomp en iewers agter die lang houttoonbank het iemand die meel of suiker uitgemeet. Ek het altyd sy kleinkinders so beny, want hulle was mos vernaam – hulle het mos ’n winkel. Die winkel se rakke was ook volgepak maar het nie naby die smous gekom wat soos Antie Koekie van Oom Koos se koeler soos ’n koelkamer uitgewerk was.

Elke keer as ek vir my oupa sy Life or Chesterfield, as ek nog onthou het teen die tyd van my aankoms, gaan koop het, het ek altyd gedroom as ek eendag grootraak sal ek vir my klomp pakkies gemengde beskuit koop. Gepraat van gemengde beskuit, een van Oupa Japan se kleinseuns was smoorverlief op een van ons niggies Jacqueline en het toe eendag vir ons gestuur om vir haar ’n pakkie gemengde koekies te loop gee. In my kinderbrein was dit ’n pot goud waarmee ons deur die rivier gehardloop het. Ek kan glad nie onthou of Jacqueline ons ooit van die gemengde koekies gegee het nie, al wat vir my saak gemaak het was dat ek die pakkie van naby kon aanskou.

In elk geval was daar darem die tye wanneer my pa ’n meester by die plaasskool ons darem elkeen ’n Springbok rand gegee het en met dié kon ons darem tussen die lekkers in houtrakkies kies waaroor glas uitgelê was.

En so onthou ek soms is dit al waarmee jy oorbly, onder die afdak, op die stoep, teen die see, in die veld – alleen net met jou onthou.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer