Alles op die regte tyd
Die Bybel sê dit baie mooi. Alles gebeur op die regte tyd en daar is ’n tyd vir alles. Vir seerkry. Vir hoop. Vir liefde. Vir slaap én vir opstaan.
Dit voel vir my of ek moontlik in die verkeerde era gebore is; dat die vroue voor my dalk net té hard vir meer verantwoordelikhede baklei het. Nou moet ek voltyds werk en belasting betaal.
En ja, daar is vreugde in die werk wat ek doen, die stories wat ek skryf en die video’s wat ek maak. Maar bo en behalwe vir ’n voltydse werk, is ek ook ’n voltydse ouer. Meeste van die tyd word alles soos een en weet ek nie meer so mooi waar bo of onder is nie. En ja, ek weet, ek weet, ons vroue kan dit alles doen. Maar wil ons? Ek wil nie. Wil jy régtig?
My drome wissel van om in ’n klein huisie op wiele deur Afrika te reis of ’n stukkie grond weg van die stad se lawaai en die vervlakste internet.
In ’n vorige era kon ek in die kombuis gestaan het – kaalvoet – met kleuters wat laggend in die gange afhardloop en gil van vreugde
Sonder om te worry oor ’n deadline wat naderkom of een wat jy dalk gemis het. Ek het dan tyd. Tyd om alles van niks te kan maak. Tyd om self my kinders te leer, iets meer as ’n skoolhandboek en kurrikulum. Tyd met my kinders. Tyd. . .
En toe sê iemand iets vir my wat ek altyd sal onthou: “Jy is nie in die verkeerde era gebore nie. Jy is nodig in hierdie era. Nodig nou.” Ongeag van drome wat wissel soos my gemoed verander, bly een feit konstant; ek wil ’n verskil maak oor hoe ons lewe. Die impak op moederaarde. Minder mors. Meer groen.
En daarom, in 2024, gaan ek alles aanpak wat ek reken ek in 1950 sou aangepak het. Die eerste ding is, ek gaan my foon neersit of sommer afsit. En dan, gaan ek leer om goeters in te lê; al is dit middernag. My botteltjies en Hammelie en Ouma se raad is op ’n papier neergepen. Doen dit, dan dit.
Ek het reeds sukses gehad om my eie seep vir die skottelgoedwasser te maak. Het dit perfek uitgekom ná die eerste probeerslag? Natuurlik nie. Doen dit nogsteeds wat dit moet doen? Beslis. Dis ’n wen-wen-situasie in my oë. Ek mag dalk later weer probeer om te kyk of ek beter resultate gaan hê of ek mag dalk nie.
En terwyl dit 1950 in my huis is, sonder ’n televisie wat direk ná skool aangesit word, kom staan die seuntjies opgewonde op die stoel langs my en help om kos te maak. Want hulle sal weet hoe om kos te maak én skoon te maak.
Vanjaar is die seuntjies vir die eerste keer in ’n kleuterskool. Nuwe ervarings vir almal. Skielik is die kalender vol koekverkopings, en dan gaan ons in die kombuis eksperimenteer en lekker speel.
Ons gaan meer buite speel en meer modderkoekies bak. Ons gaan groente kweek en uit ons eie tuin eet, want dis beter, gesonder en goedkoper. Ons gaan dit alles doen. Dalk nie alles op een slag nie. Dalk net een keer en dan besluit ons ons hou nie daarvan nie.
Die jaar 2024 kan in my huis en in my lewe lyk soos ek dit wil hê. Al moet ek nou voltyds werk en belasting betaal.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie