As die deur nie oopgaan nie, bóu hom
“As daar nie ’n deur is nie, dan bou jy ’n deur,” lees ek nou die dag op Facebook.
Jy weet, dis een van daardie hordes stukkies snert wat daagliks op sosiale media gedeel word en waarvoor ek dikwels net my oë kan rol.
Daai plasings van “sy is moeg, maar sy hou nie op nie” of “sy kou klippe, maar sy kou lekker”. So iets, met ’n sonsondergang in die agtergrond. (Ek wonder dikwels of mense wat dit deel, dit ooit krities ontleed. Want ék doen en jinne, jy sal jou storie moet ken voor jou “ware versie” op sosiale media my gaan beïndruk. Seker maar alewig die skeptiese joernalis.)
Om terug te kom by die bou van deure. Dié stukkie het egter met my geresoneer.
Ná langer as ’n jaar as ’n streekjoernalis, het ek nuwe waardering en respek gevind vir ons plattelandse mense. Moenie ’n fout maak nie, soos die meeste van ons het ek ook maar op die platteland op ’n baie klein dorpie grootgeraak.
Hierdie moet dus nie iets nuuts vir my wees nie, maar dit is – want nou is ek ’n volwassene en ek kyk na die lewe met ander oë.
Dit is anders as wat ek verwag het en anders as wat ek onthou.
Ek het grootgeword en nie ’n idee gehad wat ’n slaggat in ’n teerpad is nie. Niemand kan ontken dat ons plattelandse dorpe uitmekaar val, gelei deur leiers wat net hul eie sakke vol prop en kenners daarvan is om mooipraatjies voor verkiesings te praat – een meer korrup as die ander. (Ek sal nie my woorde terugtrek nie, bewys my verkeerd.)
Daarteenoor waai daar ’n nuwe wind op plattelandse dorpe – die wind van jongmense (tot en met 45 jaar is jonk, oukei!) wat teruggekeer het uit die stede van die wêreld en dinge probeer vorm en maak werk. Miskien was dit die ekonomie, miskien was dit Covid, maar miskien was dit ook ’n goeie ding.
Plattelandse skole is voller, want die jongmense bring natuurlik hul kinders saam.
Jy is reg, daar is nie werk vir hierdie mense op die platteland nie. Nie met hul fênsie grade nie. Hulle weet dit ook en hulle bou daardie spreekwoordelike deur. Die meeste van hulle wat ek leer ken het, het ’n eie onderneming of begin ’n eie onderneming. Of projek, of iets.
Maar hulle spring in en maak self ’n plan. Want die platteland is honger vir hul vaardighede en fênsie grade en jy weet, die jong hande moes iewers kom oorvat by die ouer hande wat so lank moes vashou en bou.
Daar is ’n gevoel van “ons doen dit self” op plattelandse dorpe. As jy skou wil hou of ’n musiekklas of nuwe onderneming wil begin, dan wag jy nie op ’n ander nie. As jy dit wil sien gebeur, staan jy vandag self op en jy doen dit. “Hierdie is ’n ‘doen-dit-self’-dorp,” vertel ’n vriendin my onlangs.
Daar is talle struikelblokke. Leierskap op die platteland val uitmekaar, geriewe is ver, diens is dikwels swak en dit is moeilik. Maar jongmense en almal anders wat opnuut deur hulle begeester is, wag nie langer op hulle nie.
Hulle bou voort aan ’n toekoms ten spyte van die struikelblokke. Hulle glo hardnekkig aan ’n toekoms – op die platteland – want hulle werk elke dag daaraan om dit te skep. Hulle is dapper – soos net ons woestynkinders kan wees.
Bykans almal van hulle maak ’n sukses van wat hulle doen. Hoekom? Want hulle is gebrei deur hierdie taai land van ons, waar opgee geen antwoord is nie. As die dekselse deur nie wil oopmaak nie, dan bou jy hom en jy maak hom self oop, vertel hulle my.
Ons mag maar trots wees!
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie