No Image Caption

As dié ding jou vasvat

Sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers

Die liefde is ’n snaakse ding. ’n Goeie ou vriend van my, wat ’n kenner op dié gebied is, het lank gelede vir my gesê dat die liefde met ’n man kan toor. Die liefde kan jou laat moord pleeg, selfmoord pleeg en aan die drink laat gaan. Dit kan jou laat lag of dit kan jou laat huil.

Die liefde, het my ou maat gesê, kan ’n man dinge laat doen wat hy nooit normaalweg sal doen nie. Snaakse dinge.

Ek stap Maandag by ’n supermark in waar ek ’n ander ou vriend, Jasper, met ’n mandjie in die hand aantref en waar hy besig is om kruideniersware te koop.

Nou ken ek vir Jas al bykans twee dekades as ’n vermoënde sakeman, maar nooit het ek gedink ek sal hom eendag betrap waar hy takies soos inkopies vir die huis doen nie. Toe Jas my opmerk, het sy oë wyd gerek en dit wou vir my voorkom asof hy die mandjie agter sy rug wou wegsteek.

Ek het nuuskierig in sy mandjie geloer en gesien dat hy melk, brood en ’n koolkop daarin het.

Ek was verbaas, want ek ken hom as ’n man wat sy maaltye gewoonlik by ’n restaurant nuttig en nie veel tyd vir koskook het nie. Toe ek hom vra watse snaakse goed hy dan nou koop, het hy verleë verduidelik dat daar nou weer iemand in sy lewe is en dat sy hom gevra het om so ’n paar goedjies vir aandete te koop.

Hy het gesê dat dit maar moeilik gaan. Hy weet nie so mooi wat hy alles moet koop nie en boonop verwag hy dat sy vir hom vies gaan wees, want die slaai wat hy gekoop het, lyk vir hom maar bra verlep, het hy gesê terwyl hy met ’n lang vinger na die koolkop in sy mandjie wys.

Hy was ook nie seker watter soort koeldrank hy moet koop nie, want sommige soorte koeldrank is volgens sy vriendin nie goed vir ’n man se gesondheid nie. Hy moes ook seker maak dat die koeldrank wat hy koop se bottel inruilbaar is, want sy is baie spaarsamig, het hy bygevoeg.

Nou is ek self nie eintlik ’n boffin met dié soort dinge nie, maar ek kon darem vir hom die verskil tussen ’n koolkop en kropslaai uitwys. Ek kon ook vir hom wys watter soort koeldrank huisvroue van hou. Daarby het ek aanbeveel dat hy kaas, botter, eiers en tamaties ook koop.

Hy het so onbeholpe voorgekom dat ek hom maar met sy inkopies gehelp het totdat ’n ander vriend van ons daar aangekom en ons betrap het waar ons met dié huishoudelike takie besig was.

Vir ’n oomblik wou ek die mandjie agter my rug wegsteek. Ek het vinnig verduidelik dat ek eintlik maar net vir ou Jasper help.

Ek het vir Jasper net daar gelaat om sy eie verduideliking te gee en terwyl ek weggestap het, het ek besef dat ek ook besig was om snaakse goed te doen.

En dit vir ’n ander ou se liefde!

- Vrydag, 25 September 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!