Ronelle saam met vriende en kollegas.
Ronelle saam met vriende en kollegas.

As groot bome val

Yolanda Nel
Ons weet nie wanneer ons lyntjie getrek word nie.

Ons besluit dit nie. Ander mense bly agter en probeer in ’n wereld lewe waarin jy nie meer is nie.

En so is dit vir ons by NMH, so is dit vir ons van die ou Democratic Media Holdings, toe ’n groot boom Maandagaand geval het.

Ronelle Rademeyer – die ystervrou van joernalistiek in Namibië. Altyd grasieus. Sy was daar toe ek 19 jaar gelede as matrikulant by Republikein se deure ingestap het. Drie dae later, met my eerste voorblad, het sy vir my gesê ek het goeie werk gelewer. Ek sou nooit in daardie oomblik besef hoe gereeld ons nog in die toekoms sou saamwerk nie.

Jare later, toe ek klaar studeer het, my voete eers in Suid-Afrika wou vind en later tog weer my pad tot by Republikein gevind het, was sy steeds daar.

Ek was ’n nat-agter-die-ore-joernalis met min ondervinding. Bietjie in die toerismebedryf. Glad nie in harde nuus nie. Maar toe kom die storie. En ek kan saam met Ronelle werk. Ronelle, toe reeds jare lank al ’n gesoute joernalis het nie vasgeskop omdat sy saam met my aan ’n storie moes werk nie. Sy het die geleentheid aangegryp om my te leer; onder haar vlerk te neem.

En een aand half 11, toe kry ek die laaste stukkie van die legkaart. Ammunisie vir ons storie. Ek het haar dadelik gebel.

“Dis wat ons nog nodig gehad het,” het sy gesê.

Ons het die storie in die middernagtelike ure geskryf. Maar ons het nog een oproep gehad om te maak, om die uitvoerende hoof van die maatskappy vir kommentaar te nader. Hy woon in Kanada.

“Jy kan hom bel,” het sy vir my gesê.

Destyds moes ons spesiale toestemming kry om internasionale oproepe op die landlyn te maak. Ek het so groot gevoel, soos ’n regte egte joernalis, toe ek my eie spesiale kode gekry het. Die man het opgetel.

“Skryf een woord hieroor en ek dagvaar julle.”

Ek het gebewe, maar ons het besluit ons het genoeg bewyse gehad om die storie te publiseer. Ons name het groot op die voorblad gepronk. Ek het saam met Ronelle Rademeyer gewerk.

Toe kom die dagvaarding. Ek het só groot geskrik ek het klaar my bedankingsbrief geskryf. Ronelle het my egter verseker net goeie joernaliste word gedagvaar.

Ons het maande se notas op die tafel uitgelê; ons legkaart aan die prokureur verduidelik. Daar het op die ou einde niks van die saak gekom nie.

“Ek was ook benoud,” het sy later aan my erken.

Talle stories kan oor dié merkwaardige vrou gedeel word. Ek steek Maandagaand ’n kersie aan. My oudste word wakker en kom vryf my rug.

“Hoekom is jy ongelukkig, Mamma.”

Ek vee trane af en verduidelik vir hom dat ons maatjie na liewe Jesus toe is. Hy kom sit op my skoot en druk my styfvas.

“Maar Mamma moenie ongelukkig wees nie, dis die beste plek om te wees.”

So Ronelle, rus jy nou, want jy verdien dit.

En aan almal wat treur; ons kan. Maar ons moet ook vashou in die wete dat sy deur ons geliefd was en ons was geliefd deur haar.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer