René Hugo
René Hugo

As Kersfees kom. . .

René Hugo – Ek lees onlangs dat Kersfees in sekere dele van die wêreld nie ’n openbare vakansietyd is nie.

In enkele lande (soos Noord-Korea) is Kersfees selfs onwettig. En in ander lande word die algemene kenmerke van Kersfees, soos Kersbome, Kersversierings en Kers-godsdiensbyeenkomste streng verbied.

Maar toe sien ek ook dat, vanjaar – skynbaar vir die eerste keer ooit – die tradisionele Kersligte in Time Square in New York, die Christus-boodskap van Kersfees uitbeeld.

Dit het my laat wonder – wat beteken Kersfees vir jou en vir my?

As mens die liedjie oor ’n “White Christmas” wat tot vervelens toe in winkelsentrums gespeel word as vertrekpunt gebruik, lyk dit asof Kersfees ’n definitiewe klimaatassosiasie het.

In die Noordelike Halfrond word sneeumanne gemaak, sneeuritte geniet, kaggelvure gestook en warm drankies wat die koue verdryf in elke huis geniet. Daarom seker ook dat die gewilde, brandewyn-gevulde Engelse Kerspoeding so spesiaal is.

In die Suidelike Halfrond is Kersfees egter ’n heel ander storie. As Namibië as tipiese voorbeeld geneem kan word, beteken Kersfees vir ons: Asseblief: Walvisbaai, Swakopmund en Hentiesbaai! Namibiërs geniet dan die see, son en sand en die wonderlike soel klimaat. En so sing ons almal hartlik saam met Koos du Plessis: “Gee ons ’n helder somer Kersfees in hierdie land o Heer.”

Die gees van Kersfees kom ook tot uiting in die dinge wat gewoonlik in hierdie tyd gedoen word. Vir meeste mense is dit ’n tyd van liefdevolle samesyn. So kom vriende, familie en soms ook toevallige kennisse saam om gesellig (veral rondom braaivleisvure) te wees.

Kersfees is voorwaar ’n lekker saamweestyd. Maar partykeer wonder ek tog of Die Sanger van Suikerbosrand ons mense so goed verstaan, as hy skryf:



“As Kersfees kom – geseënde tyd –

Dan word ’n droewe wêreld bly.

Die boodskap laat ons harte tril. . .

Maar môre gaan ons weer baklei!”



Kersfees is natuurlik ook dié tyd van geskenke gee: die wonderlike afwagting oor watter van die pakkies onder die Kersboom myne is, die ophang van Kerskouse (en kussingslope) aan die bed se rand, en die spanningsvolle uitsien na Kersvader met sy sak vol pakkies. Maar daar is soms ook ’n Kers-hartseertydjie: die onthou en verlang na Kerstye (en mense) wat verby is, die lees van die eerste Kersverhaal in Lukas 2, en Kersoggend se aangrypende kerkdiens.

Kersfees beteken ook ’n besondere “Kersfees-plek”: êrens waarheen ons net in hierdie tyd gaan. Nou se dae gebeur dit veral dat families moeite doen om bymekaar te wees. En baie kinders wat hul heil in vreemde lande gesoek het, reis duisende myle ver om in Kerstyd weer die wonder van ’n ouerhuis te ervaar.

Maar Kersfees is sekerlik meer as net spesiale bymekaarkomplekke, lekker kos, mooi liggies en wonderlike geskenke.

Kersfees is juis dié tyd van die jaar waarin ons tot ruste kan kom om te besin oor die ware gees van Kersfees. En hierdie gees is veel meer, baie wyer, as die storie van die herders, die wyse manne en die baba, toegedraai in doeke, in die krip.

Daarom – kom ons lees weer Johannes (1:14) se beskrywing van Jesus se koms.

“En die Woord het mens geword en by ons kom woon.

Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid

soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol

liefdevolle goedheid en waarheid.”

Mag Kersfees 2024 vir almal in Namibië vol van Sy Gees wees.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer