Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

As sterre uitbrand

Elvira Hattingh
Dis die olifant in die kamer waaroor niemand die tyd van die jaar wil praat nie . . . of waaroor niemand genoeg omgee om na te luister nie.

Dis asof almal die negende maand van die jaar wakker skrik en voel hulle moet iets doen – kongresse, konserte, skoue – voor die jaar verby is (en dit terwyl menige mens al moeër as moeg is).

Ek praat hier van oorwerkte en uitgebrande mense. Ek weet, dit kom al jare. Elke nuwe jaar skraap jy die bietjie bymekaar wat van jou oor is en probeer weer, maar teen maand nege (of ses) is jy weer dáár.

Die probleem is dat die werknemers wat uitbrand, dikwels jou sterre is.

Hulle het ’n tipe-A-persoonlikheid – gefokus op prestasie, hoogs mededingend en gedrewe om resultate te behaal. Hulle plaas hulself onder baie druk, maar kwyt hulself dikwels uitstekend van hul taak. Hulle streef na perfeksionisme en hul swakheid is dat hulle geneig is om te stres en angstig te raak.

Navorsers sê egter die werksplek is die nommer een bepaler of werkers uitbrand. Dit sluit in hul werklading, hul werk-lewe-balans, die hoeveelheid outonomie in hul werksplek en hul waargeneemde ondersteuning vanaf die bestuur.

Weet jy regtig hoe jou werkers oor hul werk voel? Is daar enigsins genoeg vertroue tussen julle dat hulle die inligting met jou sal deel?

Ander faktore is as werknemers nie duidelik verstaan wat van hulle verwag word nie, stank vir dank kry en ongewaardeerd voel.

Die lank en die kort is: Uitbranding kom met ’n prys; vir die werker én vir die maatskappy.

Die Amerikaanse Sielkundige Vereniging (APA) waarsku dat uitgebrande werkers nie meer baie produktief is nie. Hulle is nie meer innoverend nie en is geneig om foute te begaan. ’n Hoë bedankingsyfer kan voorkom, terwyl die maatskappy se dienslewering verswak, want jou mense is kláár en negatief.

Die APA waarsku verder dat bestuurders, moontlik weens ’n gebrek aan insig of empatie, dikwels dan werkers harder probeer dryf of met dissiplinêre stappe dreig omdat hulle “lui en ongemotiveerd” is.

Uitgebrande werkers betaal die grootste prys. Hulle mag aan meer fisieke of geesteskwale begin ly. Hulle is meer geneig om te sterf of siek te raak. Uitbranding maak mense depressief, hulle onttrek en dit raak hulle hele menswees.

Is jou hele werksmag op antidepressante? Hierdie is geen grap nie, nie ’n ligtelike saak nie.

Sukses in ’n onderneming het alles met mense te doen. ’n Onderneming is die somtotaal van die mense wat vir hom werk. Dis eenvoudig: Kyk na hulle en hulle kyk na jou onderneming. Jy het nie ’n graad in sielkunde nodig nie, dalk net ’n gesonde dosis empatie. Dit sál betaal.

Forbes het die begin van die jaar die resultate van ’n studie gepubliseer wat wys dat gelukkige werknemers 20% meer produktief is as diegene wat ongelukkig is. Werkers is gelukkig as hulle gesondheid floreer en daar na hul welstand omgesien word.

In Mei vanjaar is ’n verslag gepubliseer waarvolgens meer as 80% van plaaslike werknemers onbetrokke in hul werk voel en dat die hoë vlakke van stres en geestesgesondheidskwessies plaaslike maatskappye 35% in produktiwiteit kos.

Dis rooi ligte en dié bul behoort by die horings gepak te word.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!