René Hugo
René Hugo

Askies, jammer en verskoon my. . .

René Hugo – Dot Serfontein vertel dié interessante ervaring uit haar kinderdae:

Daar was een Maandagoggend groot probleme op hulle plaas. Zacharia die melkman en Andries die skaapman wat al vir baie jare saam werk, het ’n ongekende woede-uitval gehad.

Bloedstollende dreigemente is heen en weer geslinger en jare se goeie verhoudings is summier vertrap. Die basis van die probleem was dat Andries vir ’n lang tyd met die skape weg was om te oorwinter. By sy terugkoms kry hy toe sy vrou Alisa met ’n nuwe baba – wat die kenmerkende en onmiskenbare oë en ore van Zacharia het!

Vir ’n lang ruk was dit duidelik dat hierdie ’n oorlog tot die einde toe was.

Maar naderhand word dit tog stil op die werf. Dot se Pa het vertel dat Zacharia net sy kop laat sak het en in Afrikaans gesê het: “Askies ou swaer.” En nou is alles verby!

Wat hierdie verhaaltjie weer by my laat opkom het, was die onlangse gebeure in die nuus waar eilandstate van Samoa tydens die Statebondsberaad van Brittanje verskoning geëis het vir historiese swak behandeling van die verlede. En die Britse regering wat hierdie verskonings-eis diplomaties verwerp het.

Dit het my toe so ’n bietjie laat kyk na akademiese gespreksvoering oor die hoe, wat en waar van verskoning-vra.

* Eerstens wil dit voorkom asof verskoning-vra ’n kulturele of geskiedkundig-filosofiese basis het.

Daar is veral in die VSA ’n gevoel dat dit vernederend is om verskoning te vra – (“Real men don’t explain or ask pardon. . .”). Hierdie begrip word verder deur wetgewing versterk. Uit ’n wetlike oogpunt word beweer dat ’n apologie erkenning gee aan die feit dat die apologeet skuldig is aan verkeerde optrede. Deur verskoning te vra is dit moontlik dat jy jouself blootstel aan regsveroordeling en straf.

Wat interessant is, is dat dié benadering in Japan heel anders is. Hier word konflik soveel as moontlik vermy, omdat Japannese meen dat konflik (ek is reg en jy is verkeerd) altyd tot verleentheid lei. ’n Verskoning, daarenteen, behou die eer van die een wat verkeerd was.

* Tweedens blyk dit dat verskoning vra maklik ’n verkeerde emosionele begrip kan meebring.

In die jare 1970 was daar ’n gewilde film “Love Story”. Hierin is die stelling gemaak dat, “Love is never having to say you are sorry”. Dié idee is vir jare lank aanvaar as die beste basis om verhoudings-onmin en -hartseer te hanteer. Baie huwelike is hierop gebaseer – en het ook hierdeur ten gronde gegaan!

Navorsers verwerp dit as ’n emosionele foefie. Só ’n uitgangspunt beteken noodwendig dat, as jy vir iemand lief is, sal jy hulle nooit seermaak nie. Wat natuurlik onsinnig is omdat niemand so iets kan waarborg nie! Die logieser, en meer menslike, benadering behoort te beweer: “Love is all about being able to say you are sorrry”. Dié stelling erken die feit dat die mens ’n fout-geneigde wese is.

* Derdens beweer navorsers van die Harvard University Medical School dat verskoning-vra nie noodwendig ’n natuurlike proses is nie. Kinders wat in ’n huis grootword waar die woorde “ek is jammer” nie gebruik word nie, sal nie die waarde daarvan insien nie. Om op ’n eerlike wyse verskoning te vra moet dus van kindsbeen af aangeleer word.

Maar miskien is al hierdie psigologiese teorieë net veel lawaai en weinig wol. En dalk is die eenvoudige “askies ou swaer” tog die regte antwoord vir klein en groot verhoudings-seerkry.

En dit bring my terug na Dot Serfontein – en haar “moeilike” dogter Antjie Krog se hartroerende gediggie aan haar moeder wat só, uit die hart uit, eindig:

“ek is so jammer mamma

dat ek nie is

wat ek graag vir jou wil wees nie.”

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 21° | 38° Eenhana: 21° | 29° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 22° | 28° Tsumeb: 22° | 32° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 34° Keetmanshoop: 20° | 35° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 17° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 17° | 32° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 14° | 33° Lilongwe: 20° | 31° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 17° | 22° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 35° Harare: 18° | 31° #REF! #REF!