Anna-marie Steenkamp
Anna-marie Steenkamp

Barmhartige Samaritaan

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Samaritane kom in allerhande gedaantes.

Die mooi donkerkop Turk in haar elegante wit pakkie het haarself gelukkig geag toe sy die Samaritaan raakloop. Die Turk het na die “Bank Commercial” (uitgespreek in nóg ’n Afrikaanse, Engelse, nóg Duitse Franse aksent) gesoek. Ja, het die Samaritaan beduie, die handelsbank is hier om die draai. Sy sal vir haar gaan wys.

Die Turk het saam met die Samaritaan gestap, maar toe hulle die handelsbank bereik, sê sy nee, sy soek nie dié tak nie – wel ’n ander. Die Samaritaan het geweet daar is nog ’n tak, maar wáár?

Sy en die Turk stap ’n apteek binne waar hulle die Samaritaan ken. Die apteker beduie waar die ander handelsbank-tak is. Die Samaritaan en die Turk stap die straat op. Ja, sê die Turk tevrede toe hulle die bank bereik, dis hier. Baie dankie.

Die Samaritaan stap verder, maar het skaars tien treë gevorder toe iemand aan haar arm raak. Dis die Turk. Nee, dis nie die regte plek nie. Sy soek ’n “offies”: ’n vriendin van haar werk daar. Nou is die Samaritaan dronkgeslaan. Is dit moontlik dat hier nog ’n tak van die handelsbank is? Kom saam, sê sy vir die Turk, wat Engels ook nie altyd verstaan nie. Die Samaritaan gaan soek ’n vriendin wat dié wêreld goed ken. Die Turk stap geduldig-vriendelik saam, maar begin benoud raak: gaan sy haar vriendin ooit opspoor? Dis so lastig as ’n mens ’n plek nie ken nie en iemand daarin móét opspoor. Die vriendin weet ook nie van nog ’n tak van die handelsbank nie. Sy het haar vriendin se nommer, beduie die mooi Turk en pluk ’n telefoonboekie uit. Sy het selfs die vriendin se van neergeskryf.

Die Samaritaan se vriendin bel die plek. Waar is julle? Hier is iemand wat na julle soek. Sy beduie vir die Samaritaan waar die handelsbank is: Staan op die restaurant se stoep, dan sal jy vaskyk in die gebou. Hy het sulke swart vensters.

Teen dié tyd is die Turk al wanhopig, maar stap nietemin saam met die Samaritaan. Hulle kry die bank. Die Turk laat al die praatwerk aan die Samaritaan oor.

’n Vriendelike vrou in die bank doen ’n telefoonoproep. Stap by die volgende ingang in, verduidelik sy. Neem die hysbak na die vierde vloer. Dis die kantoor op regterhand. Gaan sy haar vriendin ooit kry, wonder die Turk. Dis nou al die dérde probeerslag. Maar toe hulle die gebou binnestap, herken sy die omgewing. Ja, dis die “offies” waar haar vriendin werk. Baie dankie. Nou sal sy regkom. Sy skud die Samaritaan se hand.

Die Samaritaan stap weg. Etenstyd is verby. Sy weet hoe dit voel om in ’n vreemde plek totaal verlore en verdwaal te wees. Jammer Samaritane is so skaars. – 22 Maart 1995

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer