Issaskar Kapuka
Issaskar Kapuka

Begenadig dié wat ‘sit’!

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Issaskar Kapuka – Die afgelope dae, kort ná die vyfde viering van die Namibiese onafhanklikwording, het baie gevangenes hul hoop gevestig op moontlike vrywaring deur die nuut verkose president (vir sy tweede termyn) en nou ook die nuwe minister van binnelandse sake.

Onder hulle, glo ek, is die meerderheid waarskynlik mense wat vir agterstallige skulde deur prokureurs en balju’s laat toesluit is.

Om enige besluit oor die vrylating van misdadigers te neem, is die president se prerogatief, maar hierdie keer is ek meer bekommerd oor skuldenaars. Soos hulle ook al gesê het, word misdadigers nie gebore nie, maar deur die gemeenskap geskep.

Is dit nou werklik nog nodig om onder hierdie wurgende ekonomiese omstandighede steeds mense in die tronk te stop wanneer hulle nie hul skuld kan betaal nie en daarvoor soos geharde misdadigers behandel te word. Ek, en seker nog vele ander mense wat in dieselfde bootjie vaar en probeer kop bo water hou, sukkel en leef in vrees wanneer ’n vreemdeling aan die voordeur klop. Dis die balju wat my kom soek, flits eerste deur jou brein!

Skulde het al tot baie selfmoorde gelei. Kan ons nie ander maniere volg om te sorg dat ’n skuldenaar sy skuld oor ’n verlengde periode kan betaal teen ’n lae paaiement totdat sy geldelike situasie “eendag” sodanig herstel dat hy die mas kan opkom nie?

Baie mense sukkel om met karige salarisse kop bo water te hou en kan beswaarlik daarmee uitkom om hul skulde volgens die ooreenkoms te betaal. Baie buitestanders sal sê dat dit beter is om nie skuld aan te gaan nie, maar in vandag se lewe is dit onmoontlik om sonder die een of ander rekeningnommer te sit. (’n Kennis van my wat onlangs klaar gestudeer het en huis wou opsit, moes tot sy skok hoor dat hy bewyse moes lewer van sy “goeie kredietwaardigheid” by ander maatskappye waar hy al rekeninge gehad het!).

’n Onlangse aankondiging in die Nasionale Vergadering (selfs ook in Suid-Afrika) dat wetgewing deurgevoer sal word waarkragtens skuldenaars nie in tronke sal beland nie, het hoop laat opvlam. Maar, wat het daarvan geword dat mense steeds hul skuld moet betaal? Die kern van die saak is tog dat die skuldeiser sy geld wil hê en dit nie wil afskryf nie.

En dan is daar nog die metodes wat prokureursondernemings volg wanneer hulle briewe aan die betrokkenes stuur. Om binne tien dae waarin jy veronderstel is om ná die ontvangs van ’n “prokureursbrief” daarop te reageer of om ná die verstryking daarvan ’n regsgeding in die gesig te staar, is darem erg. Verbeel jou. Dit terwyl ’n brief van Windhoek na Katutura minstens twee dae neem om soms in ’n verkeerde posbus te beland. ’n Enkele telefoonoproep na die persoon sou seker ’n beter keuse gewees het voordat ’n briefie in die pos gegooi word.

Die ministerie van justisie behoort indringend na hierdie aangeleentheid te kyk; anders sit ons die volgende vyf jaar weer met ’n hoë werkloosheid- en selfmoordsyfer weens agterstallige skulde en sit ons in die gevangenis daarvoor! – 28 Maart 1995

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer