Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Betaal dit vorentoe

Die vroeë en middel millennials behoort die Verenigde Koninkryk (VK) se werk-en-reis-visum te onthou.

Burgers van Suid-Afrika en Namibië kon aansoek doen om vir twee jaar in die VK te gaan werk en reis. In 2008 was ek van die laastes wat kon aansoek doen vir hierdie visum voor die VK dit stopgesit het. As student het ek in my vakansies gegaan om, in Jak de Priester se woorde, ’n pond of twee te maak.

Diegene wat die nuus dopgehou het en bietjie terug dink, sal ook onthou dat die wêreldekonomie einde 2008 in duie gestort het. Ek het met groot drome en ’n gierige beursie in Londen aangekom, net om gekonfronteer te word met werkloosheid en baie teëspoed. Nietemin, het ek met die hulp van ander mense en Gumtree die stryd aangepak.

My ouers was baie bekommerd omdat ek op die vliegtuig geklim het sonder enige werk wat wag. Ek was 22 (ek twyfel of ek vandag so iets sal aanpak). ’n Dag voor ek moes vertrek het ’n kelner-kollega in Stellenbosch se suster vir my ’n kontak gegee by wie ek kan gaan bly vir die eerste paar dae. Dit was ’n Duitse vrou met die naam Susan gewees. Sy het in ’n hotel naby Heathrow gewerk.

Ek het geland en ’n bus na die bepaalde hotel geneem. Susan het my na haar huis geneem en op pad daarheen vir my vertel sy is met ’n Namibiër getroud. Toe ek by hulle huis aankom, ontmoet ek vir Clarence; ’n Herero-man. Om die wêreld nog kleiner te maak, kom ons toe agter dat ek op Grootfontein saam met van sy niggies en neefs op skool was. Sy tannie was my business management-juffrou.

Clarence en Susan het my aankoms in Londen baie sag gemaak. Hulle was beide buitelanders wat deur die vuurdoop van kultuurskok gegaan het. Weens hulle ervaring kon hulle my baie leiding gee. Hulle het ook aangebied dat ek vir bittermin losiesgeld by hulle kon woon vir die hele tyd wat ek daar gewerk het.

Ek kon in daardie stadium geen vaste werk kry nie. Ek moes by gasvryheidsagentskappe aansluit wat my vir funksies uitgestuur het. Hierdie agentskappe het vereis dat ’n mens reeds gesout is in verskeie vorms van gasvryheidsdienslewering soos Snake Service en Silver Service. Gelukkig het Susan en Clarence al hierdie veertjies in die hoed gehad en so het ons in die aande geoefen. Dit het maar aan die begin gesukkel. Ek het byvoorbeeld in een aand, by ’n baie formele ete, ’n vrou met ’n warm pan teen die arm gebrand en kos op ’n ander man se skoot uitgeskep. Later, kon ek die pyp rook!

Verskeie bronne van inkomste het my aan die lewe gehou. Ek het sommige dae ’n jong man met skisofrenie opgepas (waarvoor ek glad nie opgewasse was nie), tuin gemaak en los takies in die konstruksiebedryf gedoen (waarvoor ek glad nie aangelê was nie). Wanneer daar nie werk was nie, kon ek my lyf toeris hou en die geskiedkundige stad verken. Alhoewel Londen ’n baie duur stad is, is daar genoeg om te doen wat verniet is – veral vir kuns-en-kultuurliefhebbers.

So paar dae voor ek moes terugvlieg ná my agtweke-werksvakansie, vra ek vir Clarence: “Hoe kan ek julle ooit terugbetaal? Nie net in geld nie, maar ook vir julle ondersteuning en omgee”.

Hy antwoord: “Mense het my al baie in my lewe uitgehelp en die enigste manier hoe ek hulle kan vergoed is om die volgende persoon te help. Doen jy dieselfde wanneer dit jou beurt is.”

Ongelukkig, of gelukkig, kon ek nie daardie pond of twee maak nie. Ek het skaars gelyk gebreek. Later in my lewe het ek besef hoe ryk ek werklik op daardie eerste werksvakansie in Londen geword het. Ervaring is ’n belegging met ’n hoë rentekoers en voorreg is ’n posisie met groot verantwoordelikheid.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A Currency: GBP to NAD 22.84 | EUR to NAD 19.09 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.11 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.76 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.31 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.1 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.41 Up +0.02% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14449.05 Up +0.55% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9653.37 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 658.55/OZ DOWN -0.0053 | Copper US$ 4.56/lb DOWN -0.0111 | Zinc US$ 3 089.80/T DOWN -0.37% | Brent Crude Oil US$ 72.65/BBP UP +1.49% | Platinum US$ 1 001.11/OZ DOWN -0.0062 #N/A