No Image Caption

Bid en glo

Met die reën wat Namibië die afgelope maande ontvang het en die oorstromings wat ons nou oral ervaar, laat my aan gebed en geloof dink.

Ons is deur ’n lang en droewige droogte, wat verwoesting en swaarkry wyd en syd gesaai het. Ons het gebid vir die reën – lank en hard.

Toe kom die reën.

Dit het ons onkant gevang. Vir ons was en bly die reën onverwags. Sommige van ons het reeds begin bid dat die reën moet ophou. Wat sal ons doen wanneer hierdie jongste gebed ook beantwoord word?

Dit is waar dat ons geen voorbereidings getref het voordat die reën opgedaag het nie. Eers nadat die eerste huise weggespoel het, het die hoofstad se munisipaliteit besluit om die rivierbeddings te begin skoonmaak.

Sedertdien moes damsluise oopgemaak word, wat veroorsaak het dat groot hoeveelhede water stroomaf van die Ruacanavalle af gevloei het, en inwoners langs die oewer van die Kunenerivier is gevra om hul huise te ontruim.

Terselfdertyd met die swaar reën wat oor die hele land val, kom die efundja vanaf Angola, ook weens goeie reën daar, en soos verwag omdat dit oor die eeue presies so gebeur het.

Tog, selfs in verband met die efundja, is geen voorsorgmaatreëls getref nie, geen planne is geïmplementeer om al hierdie kosbare water te stoor of te lei na waar dit vir besproeiing gebruik kan word nie.

In beide gevalle sou ’n mens kan dink hierdie Namibiërs wat so hard gebid het, het dalk nooit geglo dat die Here hul gebede sou verhoor nie. Niks is dan gedoen in afwagting op daardie antwoord nie.

Ons optrede dui duidelik daarop dat Namibiërs beslis nie na Noag aard nie. Dit blyk ons bid maar ons glo nie dat ons gebede beantwoord sal word nie. Waarvoor bid ons dan? Is dit bloot om voor te gee dat ons getroue Christene is? Wie probeer ons daarmee beïndruk?

As ons werklik glo dat die Here ons gebede sal verhoor, hoekom berei ons dan nie daarvoor voor nie? Dit sou mos logieserwys volg dat iemand wat vir iets vra moet voorberei vir wanneer hy of sy dit ontvang.

Verbeel jou jy vra vir tien beeste, maar het geen weiding of skuiling vir die diere nie. Jy sal die beeste in jou voorhuis moet huisves, of hoe?

Hierdie beginsel is van toepassing op almal se persoonlike lewens, en deur nie voor te berei nie, beland ons té dikwels in die situasie waar daardie seëninge verlore gaan.

Die Here stuur vir jou daardie liefde waarna jy so hunker en hier staan hy of sy nou voor jou, maar jou hart is nog hard teenoor die een wat weggekom het en daar is geen plek vir nuwe liefde nie.

Die Here stuur vir jou daardie N$10 000 wat jy so broodnodig het, maar jy dobbel dit weer weg net soos tevore, soos die gedrag wat jou in die eerste plek in die moeilikheid laat beland het.

Die Here stuur vir jou daardie bevordering by die werk, maar jy is te besig om te pronk en te spog om die nuwe verantwoordelikhede te hanteer.

Dit gebeur dikwels dat ons nie voorberei vir ons seëninge nie, en dan kan ons dit self nie sien of herken wanneer dit in ons hande geplaas word nie.

Ons staar onsself blind teen die ou probleme en sien nie die oplossings waarvoor ons gevra het nie en antwoorde wat die Here voorsien nie.

Trouens, dit verg geloof om op te tree in afwagting van ’n antwoord op jou gebede, dis nie maklik nie. Soos Noag, sal mense op jou neerkyk as jy voorberei op iets wat hulle nie verwag om te kom nie. Tog is dit die grondslag van geloof.

Dus sê ek maar net, bid en glo en berei voor vir die antwoord op jou gebede. Die Here antwoord altyd, alhoewel altyd op Sy eie tyd en in Sy eie wyse. As jy glo, moet jy in geloof optree.

As ’n nasie is Namibiërs op die rand van baie dinge waarvoor ons lank gebid het. Is ons egter gereed daarvoor? Is ons gereed om ons seëninge te ontvang?

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer