Bloed dikker as angs
Sê maar net 30 jaar gelede
Dink gisteraand terug aan Sondagmiddag en een aand lank gelede – en ek kan nie agterkom of die trane van toe of nou is nie.
Sondagmiddag het ek langs ’n jong man gestaan wat voor ’n motor beland het. Sy eie skuld? Ja, dit het ek met my eie oë gesien. En ja, die voertuig was erg beskadig. Maar almal van ons het al die een of ander tyd die pad byster geraak, nie gekyk waar ons op die lewenspad loop nie en het nogtans nie nodig gehad om met ons lewens vir dié misstap te betaal nie. En hier lê hy en bloei hom dood.
Wat ek van noodhulp weet, is net bietjie minder as niks. Behalwe vir pols voel en stil lê, het ek nie veel meer raad nie. Kan nie sy taal praat nie en kan net dink aan “Toe maar tate, lê net stil” toe hy wil beweeg. Sy liggaam is verwronge en met elke hartklop boog bloed uit ’n gapende wond in sy kop.
Gelukkig drom heelwat mense heel gou op die toneel saam en met oë wat vra, kyk ek van die man af op. Raad kry ek nie, net nuuskierigheid, afgryse en skok. By die aanskoue van die bloed aan my hande gil een: “Los! Pas op vir die bloed!”
Die oormag van willoosheid laat my die aftog blaas. Ek moet wegkom.
Net oor die bult gaan die ambulanswa ons verby. Hoop hy is betyds, soos ’n polisievoertuig lank terug vir my was – doer in 1968 toe iemand wat nie my taal kon praat nie, nie die aftog op my geblaas het nie.
Skemeraand op dié winterdag in die Noord-Transvaalse bosveld was Ma, kleinboet en ek op pad terug van Louis Trichardt na ’n naweekhuisie in die boendoes sowat ’n halfuur se ry van die gehuggie van Waterpoort.
Daar is jy sommer deur sonder dat jy dit besef het – dié dat ons na die dorp anderkant die Soutpansberge moes ry om ’n brood te gaan koop. Waterpoort het nie Sondae oopgemaak nie.
Amper by ons bestemming het die 404 die pad byster geraak en volgende wat ek weet was my oë, neus, mond en wat nog vol sand en klippe. Die skoenboksmotor se dak was onheilspellend na aan my kop en toe die stof sak, kon ek sien dat ons nog almal sit waar ons gesit het, maar die ryding het windskeef in die veld gestaan met sy neus taamlik plat en sonder ’n enkele ruit. Die brood was platgedruk tussen die twee voorste sitplekke.
Dit was die stilste nag. Niemand het gepraat nie, net deur gleufies na buite gekruip. Seker die dat die vrou en kinders wat van die grasdakhut in die middel van nêrens aangehardloop gekom het, ook net aan ons gevoel, ons op en af gekyk en weer weggehardloop het – ná ’n paar woorde in ’n vreemde taal aan die een knapie, omtrent so 12 jaar oud, wat daarna soos ’n blits die grondpad Waterpoort se rigting ingeslaan het.
Sy was gou terug met twee uitgewaste meelsakke en ’n vaal kan vol water. Sonder woorde het sy die een in ’n bal gerol en dit op my kop vasgedruk en met die ander een vasgebind. Styf, vreeslik styf. Eers met die afkyk het ek gesien my groen rok se bostuk was donkerrooi en het taai aan my gekleef.
Saam het sy gesit en wag. Iemand sou wel verbykom. Dit was ’n lang wag voordat ’n paar ligte op die donker stofpad begin groei het. ’n Polisievoertuig van Waterpoort, ’n polisieman en ’n stokflou seun met kaal voete.
Het hulle nooit weer gesien nie, maar ek weet: hulle het nie bloed aan hul hande nie.
Die kleur van alle bloed is immers rooi. – 1 Julie 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie