No Image Caption

Boodskap in aanloop tot Kersdag

Om die Kerstyd in te gaan sonder ’n geliefde
As jy een van dié mense is wat in hierdie afgelope jaar iemand wat vir jou dierbaar is, aan die dood moes afstaan, dan voel dit waarskynlik vir jou hierdie jaar of Kersfees nie op pad is nie.

Almal om jou is vrolik en opgewonde oor die naderende Kersfees, maar jy voel seer en rou en alleen van binne. Jy weet dis die Kersgety, jy sien dit aan die versierings in die winkels en strate, jy hoor dit in die Kersmusiek om jou, maar hierdie keer maak dit net hartseer. Dis die eerste Kersfees sonder hom of

haar, sonder mamma of pappa.

Hoe nou, Here? Dis dan so verskriklik seer. En ek verlang, onthou alles van laas jaar dié tyd. Ad daar maar net nog een Kersfees saam kon wees, nog een gesprek, een vashou, een keer se sê: ”Ek is lief vir jou!”

Ja, dis seerder as wat woorde kan uitdruk en dit sal altyd wees. Niemand kan ooit weer daardie gat in jou binneste volmaak nie, en in dit alles – binne hierdie seer – onthou: God is steeds daar vir jou. Hy weet waardeur jy gaan en Hy verstaan jou verlies, jou sielskreiende pyn. Wanneer jy huil daar waar jy alleen is, of met ’n foto in jou hande staan, of langs ‘n graf sit, of jou kussing snags papnat huil, Hy is dáár by jou, saam met jou, langs jou. Strek net jou hand na Hom uit, Hy neem dit en hou jou vas, want alleen sal jy nie weet hoe om aan te gaan nie.

In hierdie lewe van ons op aarde is ons elkeen ’n gyselaar van die lewe, van verganklikheid, want in alles is daar uitendelik ’n element van skeiding, van afskeid neem. En dit is wat so verskriklik seer is – die skielike skeiding met iemand wat doodgaan. Die een oomblik is alles nog soos dit altyd was en dan, net skielik is hy of sy weg. Net eenvoudig weg. Alles is nog daar, so asof hy of sy net vir ‘n rukkie weg is iewers heen en net-nou weer sal terug wees. Die koppie staan nog op die tafel met ’n bietjie tee of koffie in, die duik op die kussing waar hy/sy geslaap het, daardie dierbare reuk wat steeds aan klere kleef. . . alles bly dieselfde, behalwe dat hy/sy nooit weer gaan terugkom nie. En jy bly agter met jou seer, jou verlang en jou hele wêreld wat tot stilstand geruk het. Weet net: In dit alles, is God steeds daar. Jesus hou jou vas en dra jou in die Gees. Weet dit. Onthou dit. Glo dit. Niemand van ons is onsterflik nie en sal die een of ander tyd van hierdie wêreld moet afskeid neem. Maar, dank Vader, die dood is nie die einde van die pad nie. Ons het ‘n onsterflike siel wat ons gaan behou of verloor. Ons opgestane Heer het die dood finaal oorwin en die mag van die graf vernietig. Dit gee ons die onbetwyfelbare sekerheid dat almal wat in God glo, eers na hierdie aardse bestaan wérklik begin lewe! Dit is die belofte van die opgestane Heiland dat almal wat glo, met hulle dierbares herenig sal word wanneer God hulle huis toe roep.

My gebed vir vandag:

Dankie, Here, dat U my seer ken en dat U verstaan. Dankie dat ek kan voel hoe U arms onder my ingeskuif het om my regop te hou van daardie verskriklike oomblik af. Dra my hierdeur, Here, net dan sal ek anderkant uitkom.

Sleutelverse vir verdere lees wanneer jy stil raak:

2 Samuel 1:12; Psalm 103:15-17; 1 Tessalonisense 4:13-18, Matteus 16:23 en Romeine 8:18-38.

– Theresa van Zyl

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!