Briewe uit die binneland – Frekwensies van die liefde?
Liewe Genoot
Het jy ook al iewers gestaan en bewus geword van iets wat jou skouers en jou maagspiere sag maak, en jou kop óóp. En as jy dan wonder wat dit is, besef jy dat wat jy nou ervaar, ’n oomblik van oorbluffende geluk is.
Volgens Nicola Tesla (1856 - 1943) is die brein slegs die ontvanger, terwyl die Heelal (ek lees ‘God’) die kern is waaruit ons ons kennis en inspirasie put. Hierdie geheime kodes ken ek nie, maar dat dit bestaan, is ek seker van.
Die einste Tesla het gesê dat as ’n mens die geheime van die heelal wil ontdek, jy in terme van energie, frekwensies en vibrasies moet dink. Wetenskaplikes verklaar dat hierdie frekwensies dan golfpatrone genereer, met ander woorde energie, wat die gehalte van ons lewe bepaal.
Dit sou dalk verklaar waarom ek in negatiewe situasies ongemaklik, kwaad, bang of onseker voel, want ek word omring deur golfpatrone met skadelike frekwensies.
En Genoot, sou die ander uiterste, dié oomblik waarop ek rus en geluk ervaar en net besef hoe ontsettend mooi dit rondom my is, beteken dat ek omring word deur gesondmakende frekwensies? Dan is hierdie helende frekwensies in oorvloed aanwesig in die natuur. En ek wonder of die opkom en die wegsak van die son meer daarvan het, want dit is wanneer ek dit aan my lyf voel – daardie rustige sagtheid wat my bly maak.
Navorsers sê dat ’n onbeduidende klein veranderinkie weg van die ideale frekwensie, ’n eggo kan wees van ’n subtiele kode. Daar word dan voorgestel dat ons verby die daaglikse geraas na ’n nuwe realiteit moet soek; dat ons moet luister na musiek, na voëls, na die wind, na reën wat val ... En hóé het die hemelse musiek nie die afgelope maand in ons ore geklink nie.
Maar, Genoot, ek het ook al onder ménsgemaakte omstandighede – weg van die natuur – bewus geword van daardie onbeskryflike geluk waarna ek aan die begin van ons gesprek verwys het. Musiek en poësie skep sulke oomblikke vir my.
Musiek – dit kan ’n kombinasie van ’n groot klomp instrument plus ’n koor van stemme en lirieke wees. Of dit kan iets heel eenvoudigs wees soos die lied “Pelgrimsgebed” wat Amanda Strydom sing. Dan is die bron van frekwensies net maar een stem en ’n klavier. Dit kom neer op ’n moment waarop ek wonder: hoe kóm dit dat dit so ontsettend mooi is vir my?
Dit lyk tog maar eenmaal asof spiritualiteit nie van die wetenskap te skei is nie. Instellings wat natuurlike helingsprosesse voorstaan, maak byvoorbeeld nie net meer staat op kruie en ander natuurlike produkte wat uit ons goeie grond kom nie, maar gebruik ook geluide iewers tussen die frekwensies 432 en 528 Hertz. Dit is blykbaar binne hierdie frekwensieraamwerk waar golflengtes ontstaan wat nodig is om ons in te stem op die natuurlike ritme van die skepping. In Duitsland, byvoorbeeld, word geluid gebruik om neurologiese siektes te behandel.
Daar is al veel geskryf oor vergete beskawings vóór ons wat hierdie wysheid ontdek het. Wou hulle dit geheim gehou het omdat dit te heilig was om in verkeerde hande te val, hande wat onvoorbereid was op die krag daarvan?
Nicola Tesla, was die uitvinder van die eerste afstandbeheerde apparaat. In 1898, meer as 100 jaar gelede in Madison Square Garden, New York, het hy sy demonstrasie gedoen tydens ’n uitstalling van elektriese uitvindings. Met behulp van ’n apparaat in sy hande het hy ’n klein bootjie op ’n waterkanaaltjie, weg van hom af, laat beweeg. “Wat die een persoon ‘God’ noem, noem die ander ‘wette van die fisika’,” het hy gesê.
Leesgenoot, stem jy saam dat die kennis wat ons sintuie aan ons verklap, slegs ’n minuskule druppeltjie in die emmer is van wat rondom ons aan die gang is?
Sal jy saam met my soek? Seblief, laat hóór tog van jou. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie