Briewe uit die binneland – Stoïsisme
Liewe Genoot
Oorhaastige oordele, menings wat ongevraag gelug word, of beloftes wat sonder veel nadenke gemaak word, is beslis dinge waaraan ek my al skuldig gemaak het. Maar soos ek ouer word, raak sekere dinge tog beter. . .
Stoïsisme werk met twee betekenisse. Eerstens beteken dit om pyn of probleme te ervaar sonder om te kla of emosies te toon. Aan hierdie eerste betekenis glo ek nie. ’n Gedeelde smart is immers ’n halwe smart. Dis die ander, die tweede betekenis wat vir my sin maak: die filosofie wat daarop gemik is om ons oper, gelukkiger en verstandiger mense te maak, beter ouers, beter kollegas, beter pelle. Marcus Aurelius (121 n C), ’n Romeinse keiser en stoïsynse filosoof, het dinge verkondig wat ek graag by hom wil leer en aan my kinders en studente wil oordra:
* Spog nie oor jou kennis of dit wat jy al bereik het nie. Aanvanklik is die aanhoorders beïndruk, maar later veroorsaak dit afstand tussen jou en hulle. Ware wysheid, leer Aurelius ons, het sy oorsprong in ’n oop gemoed, en nie in arrogante aankondigings oor die self nie. En hy verantwoord sy siening deur uit te wys dat ’n mens nie kan (by)leer as jy dink jy weet dit alreeds nie. Dis so maklik om iemand anders se menings met die eerste aanhoorslag te vertrap sonder om klaar te luister. Maar dan sluit jy die deur en geen verdere kreatiewe denke is moontlik nie. Om te luister beteken nie om saam te stem nie, maar om respek te betoon en bereid te wees om verder te dink.
* Nederigheid is die grondslag. Ek is nie die middelpunt van universum nie. Wysheid lê in die deel van insigte. Die mees introverte mens kan my iets leer wat ek in my eie ongeduld en oordrewe selfvertroue gemis het.
* Beteken dit ons is slapgatte of “softies”? Tog nié! Om nie sommer deurgaans ’n ander se opinie te verwerp nie, is nie ’n teken van swakheid nie. Dit kom neer op ’n strategie. Deure word oopgemaak na nuwe uitdagings, en wedersydse vertroue word gebou sodat ’n atmosfeer geskep kan word wat eindelose moontlikhede daar stel. Die stoïsyn wil nie ten alle koste op haar eie regte staan en te bewys dat sy reg was nie. Sy wil dinge bedink, oorweeg en reflekteer – én verander as dit moet.
* Kla nie sonder ’n doel nie. Wanneer klagtes nêrens heen lei nie, tap dit jou kosbare energie en ontneem jou van innerlike vrede en krag. (Chrisna, soek jy vir oplossings, of blaas jy net die hele tyd stoom af sonder enige poging tot probleemoplossing?)
* Fokus op wat ons kan beheer, en laat dit waaraan ons niks kan doen nie, agter. Ek vind werklik krag daarin om te weet dat ek mag het oor my denke, maar nie oor wat daar buite om aangaan nie. Om te mopper oor die verkeer sal die paaie nie skoonmaak nie, en om en om te kla oor die droogte sal nie per se die reën bring nie.
* Ons woorde en gedagtes is ons gereedskap. As ons dit verstandig gebruik, herstel dit ons veerkragtigheid en doelgerigtheid, asook ons bande met ander.
* Aurelius sê: laat jou woorde eenvoudig en die waarheid wees. Weerhou jouself daarvan om beloftes te maak wat jy nie kan nakom nie. Beloftes gee ’n uniek karakter aan jou lewe. Dit skep vertroue en definieer verhoudings. Praat met bedoeling en handel met integriteit. Neem verantwoordelikheid, en vra verskoning as jy nie jou belofte kon nakom nie. En verduidelik. ’n Strategie om te volg is om minder te belowe en meer te gee. Dan dra jou min woorde gewig en jou dade gee geloofwaardigheid.
* Moenie dat jou foute jou onderkry of vernietig nie. Vroeër was ek dikwels bekommerd dat om my fout te erken, ek my swakhede blootlê teenoor die wat dit aanhoor. Vandag dink ek anders daaroor. Aurelius het homself oopgestel en só ver gegaan deur te sê, dat as iemand in staat is om vir hom sy fout uit te wys, en dit in ’n gedagte of aksie kan verduidelik, hy graag sal verander, want dan bring dit hom nader aan die waarheid wat hy soek. Die waarheid is van belang vir jóú sowel as jou ego. Foute is nie gelyk aan mislukkings nie, maar gee jou kans om te leer en te groei.
Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het in my eie ou korte lewetjie, is om te wag voordat ek iets doen. DIT WAS NIE ALTYD SO NIE. Maar hier het ouerword my gehelp. Jy sien in elk geval nie kans om dit NOU te doen nie (Te moeg, te onseker?) Wag voordat jy daardie e-pos skryf waarin jy jouself bereid verklaar om iets te doen, of waarin jy jou woede of verontwaardiging uitspreek oor iets wat jou ego ingekort het. Die nag se rus het tog die volgende dag ’n bietjie wysheid meegebring.
En Chrisna, wees tog lief vir jouself.
Groete uit die Binneland
Die uwe
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie