Briewe uit die binneland – Zeer geliefde Moeder
Liewe Genoot
My vriendin Marguerite vertel my verlede week van hul familiesaamtrek in Desember in Stilbaai. (Ek is jaloers, want my ma- en pa-goeters en my sibbes het hoeka al aanbeweeg na Elders.)
En so begin ons worstel met die Nederlands van die 1902-brief wat haar oupa, Kotie Retief, uit St. Helena aan sy moeder geskryf het.
“Zeer geliefde Moeder. . .”
Net daar stop Marguerite eers die lorrie en vertel my die aanloop tot die brief soos sy dit van haar joernalis-neef, Jan Horn, gehoor het.
Oupa Kotie het grootgeword in Graaff-Reinet. Die Kaapkolonie was in Britse besit toe die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitbreek. Die Britte wou ten alles koste ook Transvaal en die Vrystaat hê. Kotie, toe pas afgestudeer, het soos vele ander in die Kaapkolonie by die Boeremagte teen die Britte aangesluit. Met die Kaapse en Natalse kolonies onder Britse beheer, is sodanige vegters beskou as “verraaiers” of “rebelle” wat, indien hulle gevang is, aan hoogverraad skuldig bevind kon word, en voor ’n vuurpeloton sou sterf.
In 1901 word Marguerite se oupa en 22 ander rebelle deur ’n “joiner” verraai, en deur die Britte gevange geneem. (Joiners was diegene wat saam met die Britse soldate teen die Boermagte geveg het.) Die 23 manne word per trein na Durban gestuur waarvandaan hulle per boot, die SS Oriënt, na Port Elizabeth vertrek om daar deur ’n Britse krygshof verhoor, en gefusilleer te word. Die see was rof langs die Transkeikus. Oupa Kotie wat in Engels skoolgegaan het, tree as tolk op tussen die see-siek manne en die Engelse bevelvoerder, Kaptein Kershaw. Die storm bly woed en die boot hou by PE verby – Kaap toe, waar die manne dan tereggestel sou word.
Op pad suid breek daar egter masels op die boot uit. Kotie was een van die min wat dit vryspring, en hy sit hand by om die skeepsdokter te help. In die Kaap aangekom, wou die hawehoof niks daarvan hoor om die skip met siekes te laat anker gooi nie. Die SS Oriënt moet verder – hierdie keer is dit koers, St. Helena.
In St. Helena aangekom besluit Robert Sterndale, goewerneur-generaal van die eiland, dat die manne op die eerste skip terug Kaap toe gesit sal word. Eén goeie ding wat Kaptein Kershaw doen, is om in ’n verslag aan Sterndale te noem dat ene Kotie Retief ’n geleerde man is, en dat hy van groot hulp was op die skip tydens die maselepidemie. Kotie word amptelik aangestel as die krygsgevangenes se tolk en verteenwoordiger.
In 1902, kort voordat die vredesonderhandelinge tussen Brit en Boer begin, raak Sterndale siek. Kotie word ontbied en as die waarnemende goewerneur-generaal van St. Helena aangestel!
Ek haal Jan Horn aan: Sterndale se opdrag aan Kotie Retief was duidelik: “Die rebelle sal met die eerste beskikbare skip na die Kaap gedeporteer word waar hulle op aanklag van hoogverraad tereg sal staan. Hy vertrou dat sy bevele uitgevoer sal word.”
Die boot met die Britse vlag verskyn op die horison. Die skeepskaptein verneem van die waarnemende goewerneur-generaal dat die vredesonderhandelinge tussen Boer en Brit aan die gang is, en dat die rebelle se lot ’n saak is waaroor die koningin sal moet besluit. Die kaptein is omgekrap en wil met die goewerneur-generaal praat, waarop Kotie sy aanstellingsbrief onder die kaptein se neus instoot.
Die skip vertrek sonder die 23 manne. Hulle het almal die oorlog oorleef.
Ek en Marguerite kyk oor die fotostaat van Oupa Kotie se brief na mekaar. En saam verwonder ons ons aan die manier van doen van die Groot Energie.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie