Briewe uit die binneland – Balans: ’n Perspektief
Die term bewussynstroom in die literatuur verwys na die stroom van gedagtes, herinneringe, bewuste en halfbewuste gevoelens, stremminge, verlange en assosiasies wat kenmerkend is vir die verstandelike proses van die mens. En my vraag is, liewe Genoot, sou ’n mens van jou eie gedagtestroom jou eie biografie, met ander woorde ’n outobiografie, kan skryf, oor byvoorbeeld wat jou laat “tiek”? As jy oormatig vinnig tiek, is dit nodig om vir jouself ’n leefwyse aan te leer sodat jy ’n balans kan handhaaf.
Ek gebruik nou al vir vyf maande ’n toestel wat mense gebruik wat aan slaapapnee ly. Ja, die ly met ’n lang-y. Dit is anders as die lei met die kort “ei”. Laasgenoemde is lekkerder, want dan loop jy vóór. Soos in die speletjie “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” Jy’s die wolf en die ander wat saamspeel, loop in ’n ry agter jou aan, en vra so op die maat van die gelopery: “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?” En as jy wat wolf is besluit jy’t nou lank genoeg “ge-eenuur, twee-uur”, ensovoorts, dan gil jy “etenstyd!”, draai om na die klomp wat nou gillend weghardloop, en vang die eerste een wat jy in die hande kry. (Maar gelukkig hoef jy hom nie op te eet nie.)
Sulke kinderspeletjies kom – soos mens ouer word – na jou toe terug, en dit kry ander betekenisse. Soos die tyd wat uitloop.
Maar ek dwaal af. As mens aan slaapapnee ly, beteken dit (my eie leke-beskrywing) dat jy in jou slaap by tye ophou om asem te haal – daarvoor is daar verskeie redes wat wissel van ’n slegte gewete tot wie weet wat nog. Dan word jy wakker, sodat jy weer kan begin asemhaal. Of eintlik maak jou liggaam jou wakker sodat jy weer kan begin asemhaal.
Die CPAP (Continuous Positive Airway Pressure)-masjien laat ’n konstante stroom lug onder druk met behulp van ’n masker deur jou neus invloei om te voorkom dat jy ophou asemhaal. Ek wil glo dat as jy jou lewe lank aan slaapapnee gely het, jou liggaam eintlik sorg dat jy nooit behoorlik slaap nie, want hy weet – of in my geval - “sy” weet dat as ek lekker vas slaap, ek te min asemhaal, en dit is nie goed nie.
Ek slaap nou beter. Mense wat my lank terug gesien het, sê ek lyk goed. En ek wil meer as ooit tevore weer skep. Nie soos met ’n emmer nie. Maar skep. Doen. Skryf. En in oomblikke van groter helderheid, ná ’n tydperk van onsekerheid oor jou vermoëns, erken jy die ou vreugdes, maar die skep van vreugdes verg insette van jou.
Genoot, hier begin die bewussyn nou stroom, wees gewaarsku. Want as jy wil doen, word jy onrustig. Rustigheid is nodig om te kan doen. Maar moet ook nie te rustig wees nie. Mens moet effe moeg wees en effens koud kry.
Nee dit is nonsens, Pa; ’n kind is nie op sy beste as hy effens moeg en blou van die koue is nie.
Maar tog? Anders bly inisiatiewe jou ontwyk. Dus, ry vinnig huis toe dat jy dit kan neerskryf, anders vergeet jy dit, OUVROU. (Hei, wees sag met jouself! Maar moet net nie dink hierdie oomblik van relatiewe balans en helderheid oor wat jy beplan is gelyk aan ’n seepgladde verloop nie.
Na die reën is daar moewiese dongas in die pad. Maar moet ook nie te versigtig en te stadig nie. Dan lek die passie uit en gaan verlore. Hou die balans. Praktiese dinge is belangrik, maar moet nie te lank daarby vashaak nie. Netnou vergeet jy. En vra en jy sal kry!
Maar seblief, liewe God, moenie te lank wag nie. . .
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie