Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Piet, jy moet Russies praat

Liewe Genoot



Ons vriend Piet Heyns, voorheen die Woordfees se Storievuurverteller, vertel my onlangs die merkwaardige verhaal uit sy kinderjare, van die Duitse vrou en haar kinders, hulle bure destyds op Stellenbosch. Ter wille van hul privaatheid verander ek die name.

Eendag sit klein Piet in Tannie Sandra se kombuis en sy dring daarop aan dat hy tog moet leer om Russies te praat, want die Russe gaan eendag die wêreld oorneem.

Sandra se Skotse oupa, James (1800-1875) beland via Madagaskar in die Kaap, en hulle woon in Seepunt. Sy oudste dogter Mary was Sandra se ma.

Op ’n dag word Mary aan ’n jong Duitse vlootoffisier, ene Herman Redecker, voorgestel. As die skepe aangekom het, was dit altyd ’n groot gebeurtenis, en die Kapenaars het fees gevier en formele danse is gereël.

Die Duitse skip meer dae lank vas in Simonstad om vars voorraad (en dalk nog meer) te bekom. Die offisiere word uitgenooi na die wynlandgoed van ene Mr Cloete in Groot Constantia, en pak die dagreis per ossewa aan. Herman ontmoet jong Mary, en die twee raak verlief. Tydens hul verlowing van sewe jaar doen Herman dikwels by die Kaap aan. Uiteindelik trou hulle, en Mary vertrek saam met hom na Duitsland waar twee kinders gebore is, Sandra en Rolf.

Sandra word ’n musikant, en trou met ene Fritz Werner. Ook hulle twee ontmoet op ’n boot: Sandra op pad terug van die Kaap af Duitsland toe, en Frits op pad terug van Suidwes af! Hy was immers ’n lid van die Schutztruppe, en die enigste seun van ’n bekwame dokter in Berlyn wat ’n pionier was in die aanmekaar lap van kake en monde – as gevolg van skietwonde tydens WO I. Piet verduidelik verder: toe is oorlog vanuit loopgrawe gevoer, en nou ja, as jy uitloer op die verkeerde tyd, was dit nag. Vele gesigte moes weer aanmekaar gewerk word.

Uit Sandra en Fritz se huwelik word vier kinders gebore toe WO II uitbreek. Fritz gaan veg aan die Oosfront, en sy hoor niks weer van hom nie. Sy neem aan hy het in die oorlog gesneuwel.

Hulle het in Recklinghausen gebly in die Ruhrgebied, maar toe die geallieerdes die Ruhrgebied begin bombardeer, verhuis Sandra en haar kinders na die huis van haar skoonpa, die mond- en kaakchirurg. Die huis en praktyk was buite die stad in ’n omliggende (veiliger) landelike gebied wat nooit tydens die oorlog gebombardeer is nie. Daar was hulle vir ’n ruk lank veilig.

Maar toe die Russiese mag die gebied begin oorneem, word Sandra en die kinders uit die huis geboender, en die huis word deur die Russiese weermag oorgeneem en as veldhospitaal gebruik.

Die offisier in bevel praat met Sandra (wat ’n bietjie Russies kon praat), en laat hulle toe om in die kolehok van die veldhospitaal in te trek. (Sy en die offisier ontdek toe later dat haar skoonpa les gegee het aan die mediese skool in Moskou as deel van ’n uitruilprogram tussen Duitsland en Rusland toe Hitler en Stalin nog vriende was.)

’n Russiese soldaat wie se een arm afgeskiet is, help Sandra bedags om hout te kap – volgens hom was dit mannewerk. Hy bring ook vir hulle kos. Op ’n dag kom vertel hy vir haar dat daar besluit is om haar en haar kinders na in soutmyn in Siberië te deporteer.

Daardie nag pak sy die rugsakke en die aand donker begin sy en die vier kinders terug te stap na hul huis in Recklinghausen, ’n afstand van 509 km. Vir vier maande lank duur die reis. Snags word daar gestap en bedags lê hulle laag.

Maar hierdie verhaal is nie klaar nie, en liewe lesers, wees geduldig. Volgende Dinsdag vertel ek verder aan hierdie verhaal wat Piet bewaar het omdat dit een is van hoop wat oorvertel móét word.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer