Briewe uit die binneland – Soos in die hemel, so ook op die aarde (Deel 1)
Liewe Genoot
Dinge het goed uitgewerk dat ons vir Amanda Strydom en haar pianis Coenraad Rall persoonlik na ’n optrede Swakopmund toe kon neem.
Ek en manlief moes my motor daar gaan haal wat ’n baie spesiale werktuigkundige net daar kon regmaak.
Saterdagaand beleef ons toe die verhaal oor die Incredible journey of Tinkerbell van Tonder wat bevestig dat engele op ons pad gebring word.
Op sewejarige ouderdom word Tienkie wees gelaat en beland in ’n kinderoord waar al die karakters van ’n geslaagde kinderverhaal haar storie verder vat. Behalwe haar maatjies, was daar ’n streng matrone wat haar soms na die kelderkamer verban het waar sy oor haar lewe moes nadink. Eers as sy kon sê wat sy eendag met haar lewe wil maak, kon sy uitkom.
Gelukkig was daar ook ’n Antie Nella in die kombuis wat Tienkie ondersteun en getroos het. Dikwels het sy vir Nella gevra: “Antie, is dit nou my huis? Hier? Vir altyd?”
Met een so ’n nadinksessie in die halfdonker hoor Tienkie ’n stem wat haar roep: “Tienkie!”
Sy dog eers dis Antie Nella wat skelmpies vir haar kom kuier, maar die deur bly op slot. Sy klim op die kratte om deur die klein venstertjie hoog bo teen die muur te kyk. Sy gryp die ysters van die diefwering vas en kry net-net geloer deur die onderste helfte van die klein opening. ’n Helder glans van koper en gekleurde krale skyn deur die ruit. Weer hoor sy haar naam.
“Tienkie, luister nou mooi. Trek die ysters uit die muur en klim deur die ruit.”
Met verwondering pluk sy saggies aan die diefwering, en die gly soos ’n mes deur sagte botter uit die muur. Tienkie val van die kratte af en beland met haar sitvlak in ’n emmer op die grond. Weer hoor sy die stem.
“Tienkie, staan op!”
Sy wikkel haarself uit die emmer, pak die kratte weer langs die muur opmekaar en klim tot by die venstertjie.
“Wie is jy?” vra sy vir die helder lig.
“Luister kind, spring deur die venster. Ek sal jou vang.”
Toe sy huiwer, por die koperbruin glans haar weer aan.
“Spring Tienkie!”
Sy spring. Nampti se sterk arms vang haar toe sy deur die lig trek, en vlieg met haar stasie toe waar ’n trein wag. Sy sit die kind neer voor die voete van die wagtende kondukteur.
“Klim in, Kind.”
Die fluitjie blaas en die trein vertrek. Deur velde met geel duwweltjieblomme ry sy. Tikke-tik, tikke tik. In ’n stad met die mooiste liggies spoeg die trein haar uit. Nampti lig haar in haar arms op en dra haar tussen die menigtes deur tot waar die taxi’s staan. Toe ’n deur oopgaan, prop sy vir Tienkie in die oorvol agtersitplek. Sy beland op skote en bene. Toe die taxi begin ry, skommel sy op ‘n groot “mama” se skoot so saggies tussen die twee groot borste in. Mama Souf sit haar arms om die kind, en die raak aan die slaap.
Toe die taxi hulle uitspoeg, vat Mama Souf haar hand en die twee stap huis toe. Sy maak die deur vir Tienkie oop, en sê “Welcome to Mama Souf’s Diner!”
Die plek was ruim en gesellig deurmekaar. Die geur van heerlike kos hang in die lug. Oor naweke is die Diner éérs besig. Teen die aand kom daar mense wat kom bier drink, gesels en lag, en musiek maak.
Op ’n aand maak Mama Souf vir Tienkie in haar bedjie toe net langs haar eie groot katel. Die deur tussen Tienkie en die Diner word toegemaak teen die lawaai. By die venster langs Tienkie se bed skyn Nampti saggies in. Tienkie vlieg op, maak die venster oop en vra: “Nampti, ek wil nie weggaan nie! Is dit dan nie nou my huis nie?”
En Nampti antwoord: “Tienkie, wees gelukkig hier en help Mama Souf net waar jy kan.” En wat met Tienkie daarna gebeur, is nie om te glo nie!
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie