• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Soos in die hemel, so ook op die aarde (Deel 2)
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Soos in die hemel, so ook op die aarde (Deel 2)

Liewe Genoot

Verlede Dinsdag het ek geskryf oor The incredible journey of Tinkerbell van Tonder wat Amanda Strydom hier in Windhoek kom opvoer het.

Dit het geëindig met die Koi-engel, Nampti se tweede verskyning aan Tienkie in Mama Souf se Diner’s-kuierplek-cum-huis waar die kind beland het nadat Nampti haar uit die kinderhuis verlos het. Hierdie keer was Nampti se opdrag aan haar dat sy vir Mama Souf moes help net waar sy kon, en dat sy moes sorg dat sy wat Tienkie was, gelukkig is.

Tienkie se nuwe ma, Mama Souf was, in die woorde van Nella (die trooster-ouma uit Tienkie se kinderhuisdae) wel die shebien-queen, maar nié die enigste queen in die omgewing nie. Want langsaan haar het Errol die bloemis, en sy vriend, John die haarkapper gewoon, en hulle het deel van Tienkie se uitgebreide familie geword.

Soos sy ouer geword het, het hulle haar geleer om haar naels mooi te verf, en het hulle vir haar die mooiste klere gemaak. Die hoogtepunt vir Tienkie was dat Mama Souf op Vrydagaande vir haar gevra het om een song saam met die band te sing. So het haar droom om te kan sing begin vlerke kry.

En daar, in die tweede ry van vooraf waar ek Amanda op die verhoog dophou, dink ek aan die lied getiteld Grieta du Plooy, wat sy met soveel oortuiging sing.

Op my Whatsapp-navraag laat weet Amanda toe dat dié lied ’n vertaling/verwerking is van “Ring them bells” wat Liza Minnelli (háár bewonder ek ook) gesing het.

Maar goed, voort met Tinkerbell se verhaal:

Op ’n dag bring ’n man met ’n donker pak en donkerbril vir Mama Souf ’n brief – sommer dáár in haar Diner. Die volgende oggend gaan haal sy haar spaarboks onder die bed uit, en koop vir Tienkie ’n vliegkaartjie Nederland toe, want die stootskrapers gaan die Diner kom platstoot. Tinkerbell moet daar by Mama Souf se broer, Uncle Boytjie, ’n uitgewekene, gaan bly.

Vir 15 lange verlangjare bly sy by Uncle Boytjie voordat hulle in 1994 albei huis toe kon kom na ’n demokratiese Suid-Afrika. So kry ’n reisverhaal met erge dongaslote ’n goeie einde. Maar soos Antie Nella sê: “Die lewe is ’n reis, en wie is ons nou om die transport te question?”

Amanda Strydom is ’n kunstenaar met wie ek my kan vereenselwig. Haar stem laat reg geskied aan al die karakters wat sy in die stuk vertolk, en haar spel beskik oor ’n aanvoeling waarsonder ’n produksie soos hierdie maklik sou kon verval in ’n blote geklets oor apartheid en genderkwessies.

Die liedere (insette deur Frazer Barry, Ismail Mohammed en Jacques Avril du Toit) funksioneer as padwysers, as die strepe op die padkaart wat Tinkerbell op haar reis begelei: “Two fisted Mama” korreleer met Mama Souf as beskerm-engel van die wees-gelate kind; die struggle-lied “Meadowlands” (geskryf in die 1950’s) is volgens resensent Jo-Ann Floris ’n reaksie op die gedwonge verskuiwing van inwoners uit Sophiatown, Johannesburg.

Toe ek klein was, het my kleuterskooljuffrou ons na die veldblommetuin op Caledon in die Wes-Kaap geneem. Daar was ’n piepklein watervalletjie waar die watertjies oor die swart rots se rand geval het tot op ’n kolletjie wit sand. En toe sê sy met oortuiging dat dít die plek is waar die engeltjies kom dans. Ek het altyd gedink dat ek net ongelukkig was dat die tydsberekening van só ’n aard was dat ek dit nooit gesien het nie. Vandag weet ek van beter. Engele is op die oomblik dat hulle hul werk doen, vir jou onsigbaar, maar later as jy terugdink, onthou jy hulle gesigte. En jy besef: die tydsberekening kon nie beter nie.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer