Briewe uit die binneland – Woorde is nie alles nie
Chrisna Beuke-Muir – Is die obsessie om te beskryf edeler as die obsessie om eerstehands te kyk? Behoort die eerste sintuiglike waarneming nie voorrang te geniet bo die representasie, die tweede waarneming wat jy iewers gestoor het nie? (Op watter lêer nou weer, onder watter folder? Ek wil dit tog so graag vir jou wys. . .)
Is om net biologies waar te neem, stoorbaar – vir veilige bewaring wat jy ten alle koste kan terugvind?
Nee, nie vir my nie. Moontlik vir my Skepper, ja. As Hy of Sy my eendag weer nuut oor-bou en die bloudruk-skyfie van sintuiglike ervarings iewers terugvind in my brein.
Is dit hoekom ek nou so maklik vergeet? Omdat ek my lewenservaringe gestoor het op papier en op my rekenaar se watsenaam, en in die proses dit uit my bloedbrein úít geskryf, úít gekliek het?
Het my obsessies om te bewaar (op papier of elektronies) vir my so belangrik geword dat ek my eie menslike ervarings van kyk, dink, geniet en dankie sê al hoe meer op die agtergrond geskuif het?
Erindi, 25 November 2024: Krokodille en seekoeie in een dam, ’n groot dam, maar tog. Van die gevaarlikste diere in die diereryk is versamel in ’n oppervlak met ’n eindige hoeveelheid water wat met een kyk waargeneem kan word. Sonder om die kop te draai, want ek staan op die stoep, ver genoeg van hulle af op ’n veilige afstand. Ek verluister en verkyk my aan die interaksie tussen die diere. Die geluide, die onderonsies wat kan ontaard in ’n felle stryd om grondgebied, akwa-gebied, wanneer die waterpoel kleiner raak as die reën wegbly. Die diere weet tog nie van die Homo sapiens wat sal water inpomp as dit nodig raak nie. (Of is ek arrogant om te dink hulle weet nie?) My bek hang steeds oop, al is ek jare lank al in Namibië. Eintlik is daar tog niks wat my behoort te verbaas nie. Ek verstaan gebrekkig-mensagtig dit wat ek sien, en met my niervormige dink-orgaantjie weet ek dat wat ek sien, moontlik is.
Maar ... Ek besef dat ek te lank gelede net gekyk en ervaar het. Ek sien oomblikke wat ek bittergraag met iemand sou wou deel. ’n Seekoei wat op ’n gegewe oomblik in die water op haar rug draai en die vier pienk te-klein-voetjies-virrie-lyf bokant die modderwater laat verskyn. Vir haar doodnatuurlik. Sy dink nie eers daaroor nie. Sy doen dit net.
Hoeveel keer in ’n mens se lewe sien jy so iets? Ek móét dit met ander deel. Ek skraap my selfoon nader om ’n video te neem van die rare oomblik – wat toe al verby is. My foontjie se klank is goed en die geluid behoort saam met die beeldmateriaal vasgevat te kan word. Agterna kyk ek na die representasie van wat ek ervaar het, en luister ek na die geluide in die nuwe werklike tyd: die gelag van die seekoeie en die voëls se gekwetter. En ek wéét: daar is soveel méér as woorde.
Ek kies die video op die foon, druk die knoppie en stuur dit aan my kinders en pelle. En ek weet ek het myself verloën. My sintuie onderskat, minder geag. Ek moet weer leer om te staar, te dink, te onthou. In te drink en biologies en sintuiglik te ervaar. Sonder elektronika in my hande of binne gryp-afstand. Sodat ek weer kan leer om te sien en te hoor en te ruik.
Maar asseblief: dan wil ek dit kan deel, ek wil hierdie wonders oorvertel. . . dit wat ek onthou. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie