Briewe uit Yankeeland
So asof mense hier nog briewe skryf. ’n Beter titel sou dalk wees iMessages uit Amerika.
So vir diegene wat nie weet nie – ek sit tans in die VSA. Dis my derde jaar wat ek vir ses maande hier woon en die lewe is ... anders.
Dit voel soos ’n fliek. Asof jy dieselfde fliek vir die sewende keer kyk. Ek dink omdat ons die Amerikaanse leefstyl en mense die heeltyd in flieks sien, voel dit asof hulle geen kultuur van hul eie het nie. ’n Gebrek aan egtheid.
Ek verlang na my unieke kultuur, opregte leefstyl en mense met diepte.
Ek sit in ’n koffiewinkel en luister na die gesprekke rondom my. Praat jy regtig so, of spot jy net?
Mean Girls is een van my gunstelingflieks – met bekende sêgoed soos, “you can’t sit with us”, “on Wednesday we wear pink” en “the limit does not exist”, maar ek kon my nooit indink dat so ’n wêreld regtig bestaan nie.
So hier sit ek nes Lindsay Lohan, ’n kind van Afrika wat haarself in ’n ander tipe wildernis bevind. Een vol iPhones, Instagram-influencers, Biden, botox en lugversorging.
Alles is nie sleg nie; die lewe hier is vinniger as Afrikatyd en in baie opsigte geriefliker. Jy gooi jou eie brandstof in en betaal sommer net daar by die pomp. ’n Droomwêreld vir ’n introvert.
Mense hier praat nét Engels. Hoe vervelig? Besef ons ooit hoe bevoorreg ons is om soveel tale in ons land te ervaar. Meeste mense praat Afrikaans en Engels en sommige praat sommer drie of vier tale. Die prag van diversiteit waarna my hart so terug verlang.
Iets waaraan ek gesukkel het om gewoond te raak, is restaurante wat jou bankkaart vat – soos in wegvat. Hulle bring vir jou jou rekening en dan vat hulle jou kaart. Wanneer hulle dit terugbring, kan jy op die strokie die fooi aandui wat jy vir die kelner wil gee.
Dit maak my senuweagtig as ek nie te alle tye my bankkaart kan sien nie. In Namibië mag mense omtrent nie eens aan my kaart raak nie.
Ek besef ook nou eers hoe vrees en misdaad ons denkwyse oorheers.
Huise hier het nie heinings om nie. Dit beteken enigiemand kan in jou erf inkom. Saans kan hulle tot by jou venster stap en inkyk. Die vensters het ook nie diefwering op nie.
Mense hier sal nooit verstaan nie. Die vrees. Sal hulle ooit begrip hê vir jong vrouens wat nie alleen mag buite loop nie? Begrip vir die vrees terwyl jy in jou eie bed lê? Sal hulle ooit hul eie voorreg verstaan?
Nie almal oraloor die wêreld lewe in vrees soos ons doen nie. Weet ons dis nie normaal nie? Dis nie hoe dit moet wees nie? Ons het eenvoudig net gewoond daaraan geraak.
Kinders hier kan word wat hulle wil. Hulle het oneindige moontlikhede. Kan ons dieselfde van ons kinders sê?
Dalk is dit eenvoudig net die beperkings van ’n derdewêreldland.
Een ding is verseker – Namibië is beslis nie ’n rom-com nie. Die mense is opreg, die kulture is outentiek, die natuur is sonder grense en die leefwyse is eg.
Die beperkings is ook ’n realiteit en die vrees ’n werklikheid. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie